OUDTSHOORN NUUS - Die lekkergoedwinkel in Jacobsonstraat, Cango Candy World, is Sondagaand, 7 Junie, deur 'n verwoestende brand in puin gelê.
Die Oudtshoorn-brandweer was vir etlike ure op die toneel besig om die brand te blus. Jacobsonstraat was vir 'n wyle tydelik vir verkeer gesluit terwyl nooddienste hul werk verrig het.
Kort nadat die nuus van die brand bekend geword het, het daar op sosiale media en in die gemeenskap bespiegeling ontstaan oor die moontlike oorsaak van die brand. Vrae is onder meer geopper of die voorval moontlik met xenofobie verband kon hou, aangesien die besigheid aan buitelandse eienaars behoort.
Die oorsaak van die brand was teen druktyd nog onbekend en die saak word ondersoek. Geen amptelike aanduiding is nog gegee dat die brand met enige vorm van xenofobiese optrede verband hou nie.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is 'n saak geopen, maar geen verdere inligting is beskikbaar nie.
Oudtshoorn Courant het Dinsdagmiddag inligting ontvang dat kinders probeer het om die gebou te vandaliseer deur aan die hekke te ruk en die gebou met klippe te bestook, daar was glo ook volwassenes tussen hulle wat met kratte koeldrank weggehardloop het.
Oudtshoorn-polisie, asook MSec, 'n plaaslike sekuriteitsmaatskappy was Dinsdagmiddag op die toneel, maar die verdagtes het reeds verdwyn.
Munisipaliteit reageer
Candice Biscombe, mediawoordvoerder vir Oudtshoorn-munisipaliteit het gesê brandweerpersoneel het onmiddellik op die noodoproep gereageer en met hul aankoms op die toneel gevind dat 'n groot gedeelte van die gebou reeds in ligte laaie was.
"Brandbestryders het die gebou vanaf die oostelike kant betree en onmiddellik begin om die brand te blus. Die hulp van die weermag se brandweerdiens is ook ingeroep om te voorkom dat die brand na aangrensende geboue en eiendomme versprei. Geen beserings is aangemeld nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’