OUDTSHOORN NUUS - Die familie van die vermoorde Willem 'Breezy' Koopman sê hulle dra geen verwyte nie.
Koopman is na bewering in die vroeë oggendure Saterdag 1 Februarie in Rosevalley deur sy meisie doodgesteek.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die voorval bevestig.
"Voorlopige verslae toon dat Oudtshoorn-polisie na die woning in Rosevalley ontbied is waar hulle 'n man met 'n meswond aan sy bors gevind het.
Die man is met die polisie se aankoms op die toneel dood verklaar. Die 19-jarige verdagte het op die vlug geslaan, maar is later in hegtenis geneem. Bronche Jolander het Maandag 3 Februarie op aanklag van moord in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Koopman se niggie, Dina Horn, vertel dat hy by haar gewoon het en dat hy en sy meisie maar altyd 'n moeilike verhouding gehad het.
"Hulle was ongeveer twee jaar saam, maar het baie baklei. Ek het baie met hom daaroor gepraat. Saterdagmiddag toe sien ek hy en sy is weer bymekaar. Later die aand is ons ingelig hy is gesteek, maar ons het nie gedink dit is noodlottig nie. Toe die ambulanspersoneel hom egter op die draagbaar laai kon ek dadelik sien hy is weg."
Volgens haar dra hulle as familie geen verwyte nie.
"Ons is nie kwaad of haatdraend nie, en ek gaan dit ook nie duld in my familie nie. Ja, ons harte is seer, maar ons ken nie die Here se wil hieroor nie. Dit is hartseer dat hy nou jare later soos sy pa aan 'n messteek oorlede is, maar ons berus by dit en wil nou net op 'n gepaste wyse van hom afskeid neem."
Sy vertel dat hy altyd vol grappies was en baie lief was vir sy familie.
"Hy het 'n 12-jarige dogtertjie wat in Calitzdorp woon, beide sy ouers is oorlede, so ons sal seker maak hy word begrawe."
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) se Leon Campher gaan 'n kranslegging vir Koopman op 13 Februarie om 16:00 in Rosevalley hou.
Die familie is nog besig om die begrafnisreëlings te tref wat waarskynlik op Saterdag 15 Februarie gaan plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’