OUDTSHOORN NUUS - 'n 59-jarige man, Pieter Fourie, het twee gebreekte hande en 'n gebreekte elmboog na twee booswigte hom 'n week gelede met 'n kapmes aangerand en van sy fiets beroof het.
Fourie, 'n werker by Oudtshoorn-diereherberg, 'n diereskut wat op die Rooiheuwel-pad naby die rioolsuiweringswerke geleë is, sê hy het die oggend vroeg met sy fiets werk toe gery toe die voorval plaasgevind het.
"Ek ry gewoonlik sodat ek 07:00 by die werk kan wees. Ek het net om die draai gery toe twee mans naby die ou treinstasie van agter die bosse uitspring en my begin aanval. Hulle het serpe om hulle gesigte gehad. Hulle het op my gespring en die een het my fiets gegryp terwyl die ander my met 'n kapmens gekap het. Hy het aanhou kap tot ek op die grond geval het. Hulle is toe met die fiets daar weg."
Fourie sê hy het verder tot by die diereherberg se perseel geloop en toe vir Ansa de Jager, stigter van die diereherberg, gebel.
"Ansa het my hospitaal toe geneem. Ek is later George toe oorgeplaas en toe weer terug Oudtshoorn toe. Wat vir my vreemd is, is dat hulle my nie verder deursoek het nie.
"My selfoon en beursie was in my broeksakke en hulle het dit nie gevat nie. Dit is baie diep houe. Ek het baie steke gekry en was amper 'n week in die hospitaal. My hande is so seer. Ek woon alleen en 'n vriendin kom in om my te help."
Fourie sê op hierdie stadium is sy grootste bekommernis dat hy eers weer in Maart kan begin werk en dat hy geen vervoer het nie.
"Die fiets was al wat ek gehad het om werk toe te gaan. Nou het ek niks meer nie."
Sers. Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die verdagtes is steeds op vrye voet.
"Die motief vir die aanval was duidelik roof, en die polisie in Oudtshoorn ondersoek tans 'n saak van roof met 'n wapen anders as 'n vuurwapen. Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting oor hierdie voorval om Crime Stop te kontak by 08600 10111. Alle inligting sal vertroulik hanteer word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’