OUDTSHOORN NUUS - ’n 26-jarige man van Oudtshoorn, wat tans ‘n vonnis van 13 jaar vir verkragting uitdien, is verlede Dinsdag in die streekhof weer aan verkragting skuldig bevind, en nog 18 jaar gevangenisstraf opgelê.
Jerome Gelderbloem het die oggend van 15 Desember 2018 ‘n 48-jarige vrou, wat onderweg na haar werk was, op die Oudtshoorn-gholfbaan oorval en verkrag en haar ook van haar selfoon beroof.
Die vrou kon hom nie identifiseer nie en hy is eers in 2020 vasgetrek toe hy weer ‘n vrou op die gholfbaan verkrag het. Sy DNS het hom tot die verkragting in 2018 verbind.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het betoog dat die optrede van Gelderbloem totaal onaanvaarbaar is en geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe minimum vonnis vir verkragting af te wyk nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat alhoewel Gelderbloem skuldig gepleit het, het hy geen berou getoon nie. Hy kon homself aan die polisie oorgegee het, maar verkies om dit nie te doen nie.
Volgens die landdros het elke burger van die land die reg om enige tyd van die dag te loop waar hy of sy wil, maar as gevolg van wat tans in die land aangaan kan dit nie gebeur nie.
"'n Vrou wat op pad was om vir haar kinders te gaan werk is deur die beskuldigde verneder. Die belang van die slagoffer moet in die geval die middelpunt van die vonnis wees,” het die landdros gesê.
Gelderbloem is 18 jaar vir verkragting opgelê omdat dit die tweede keer is dat hy aan dieselfde misdaad skuldig bevind is, asook 12 maande vir roof.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’