OUDTSHOORN NUUS - Die 26-jarige Noag Johnson van Welgeluk in die Oudtshoorn-distrik is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof lewenslank tronk toe gestuur nadat hy op twee aanklagte van verkragting, twee van aanranding, aanranding om ernstig te beseer en menseroof skuldig bevind is.
Die 55-jarige klaagster, wat nog ’n maagd was, het getuig dat Johnson die aand van 28 Oktober 2023 by hul woning ingebreek en eers vir haar en haar 82-jarige pa aangerand het.
Daarna het hy haar in die donker op die erf rondgesleep, verskeie kere verkrag en met die dood gedreig.
“Ek het tot die Here gebid en hom gesmeek om my nie dood te maak nie.”
Volgens haar het sy later aan hom gesê dat sy nog die volgende oggend kerk toe moet gaan en hy dit ook moet doen.
Na alles het sy hom gevra om by haar huis hout te kom kap want sy wou hê dat die polisie hom daar in hegtenis moes neem.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om nie van die minimum vonnis vir verkragting af te wyk nie omdat geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om dit te doen nie.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat Johnson geen berou toon vir die vernedering van sy slagoffer nie.
Hy het eers teen die einde skuldig gepleit op vier van die aanklagte, maar onskuldig op die aanklag van verkragting ten spyte van verdoemende getuienis teen hom.
Die hof het bevind dat die klaer en haar pa baie goeie getuies was en geen rede bestaan om nie hul getuienis te aanvaar nie. Mense soos Johnson moet uit die gemeenskap geneem word.
Johnson is lewenslank vir die twee verkragtings opgelê, vyftien jaar vir die aanranding van die klaer en haar pa en sewe jaar vir huisbraak en menseroof. Die vonnisse kan samelopend uitgedien word en Johnson is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’