OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man (34) van Rose Valley in Oudtshoorn, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van 30 jaar opgelê vir verkragting en poging om te verkrag van twee vroue wat goed aan hom bekend is.
In die eerste voorval het Jason ‘Bumper’ Afrika die aand van 22 Julie 2023 probeer om geslagsgemeenskap met ‘n ma van twee kinders te hê. In die tweede voorval het hy op 5 Januarie 2024 ‘n 20-jarige vrou, ‘n dag voor haar 21ste verjaarsdag twee keer verkrag. Dié vrou was nog 'n maagd.
Afrika het in sy getuienis ontken dat hy probeer het om die eerste klaer te verkrag omdat hulle mekaar al te lank ken en hy nooit so-iets aan haar sal doen nie. Hy het ook ontken dat hy haar R2 000 aangebied het om die saak terug te trek.
Oor die aanklagte van verkragting het hy getuig dat hy en die tweede klaer net gesoen en hy haar styf vasgehou het. Hy kon egter nie aan die hof verduidelik hoe sy die beserings aan haar privaat dele, waaroor 'n dokter getuig het, opgedoen het nie.
Streeklanddros Daniel Boks het Afrika se getuienis as vals verwerp.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir lewenslange gevangenisstraf vir die verkragting gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie. Hy was op borgtog uit toe hy die 20-jarige vrou twee keer verkrag het.
Hy het haar hele lewe verwoes en die klaer sê dat sy, veral wanneer sy tussen mans is, baie bang voel.
Brian Carelse, regshulpprokureur van die beskuldigde, het die hof versoek om vir vonnis in ag te neem dat hy al vir byna ‘n jaar in aanhouding is. Volgens hom was alkohol in albei voorvalle betrokke.
Die hof het met vonnisoplegging gesê Afrika het in die eerste voorval sy vertrouensposisie misbruik. Die klaer het hom so vertrou dat sy hom toegelaat het om saam met haar en haar kind op een bed te slaap omdat hulle mekaar al langer as tien jaar ken.
Hy het egter sy vertrouensposisie misbruik.
Verswarend op die tweede aanklag is dat hy die vrou twee keer, en sonder om ‘n kondoom te gebruik, verkrag het.
Daarenteen het hy, ten spyte van die verdoemende getuienis teen hom, volgehou dat hy onskuldig is en dus geen berou toon nie.
Oor die tydperk in aanhouding het die hof bevind dat dit duer sy eie toedoen is, en hy net homself daarvoor moet blameer.
Hy is vyf jaar vir poging om te verkrag en 25 jaar vir verkragting opgelê, en ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’