OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van April Adams (55) van Rosevalley in Oudtshoorn, wat van verkragting van ’n 9-jarige meisie aangekla word, is verlede week in die streekhof vir die getuienis van die beskuldigde tot 23 Junie uitgestel.
April Adams word daarvan aangekla dat hy tussen 2015 en 2018 die klaer verskeie kere verkrag het, en ook ’n beskermingsbevel verontagsaam het.
Die klaer, nou 18 jaar, het getuig dat Adams haar in 2015 vir die eerste keer in sy huis verkrag het terwyl sy vrou in ’n dronkslaap was.
Die staat het sy saak na die getuienis van die klaer se ouers gesluit waarna die verdediging uitstel gevra het om met die beskuldigde te konsulteer. Die ouers het getuig dat Adams, toe hulle nog bure was, ’n laspos van homself gemaak het en nie hul kind wou uitlos nie.
Hulle het interdikte teen hom verkry, maar hy het dit net eenvoudig opgeskeur wanneer dit op hom bestel was en hom nie gesteur aan voorwaardes wat hy moes nakom nie.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en Nadia Arnolds is die aanklaer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’