OUDTSHOORN NUUS - Freek Brits, alom bekend as Toll, is Saterdag 20 April, drie dae na hy deur 'n motor naby die sirkel in Zebraweg raakgery is, oorlede.
Brits (57) het naby dié sirkel by familie van hom gewoon.
Volgens André Plaatjies, 'n familielid, wou Brits Woensdag 17 April oor die pad loop, maar hy het gestruikel en in die pad geval.
"Daar het 'n voertuig by die toegee-teken by die sirkel gestaan en toe weggetrek en bo-oor my oom gery. Toll het bitter seer gekry. Dit lyk of die voertuig bo-oor sy kop gery het. My oom het ook sy oog verloor. Die ambulans het hom kom haal en hy is aanvanklik in Oudtshoorn-hospitaal opgeneem, maar is die volgende dag na George-hospitaal se intensiewesorgeenheid oorgeplaas. Hy het Saterdag daar aan sy beserings oorlede."
Volgens Plaatjies is die bestuurder van die voertuig net betyds deur iemand wat op die toneel was gestop.
Die familie beoog om Brits volgende naweek te begrawe, maar die besonderhede is nog nie bekend nie.
Brits laat sy drie kinders, vyf kleinkinders en suster agter.
'n Navraag is aan die polisie, maar is teen druktyd nie beantwoord nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’