OUDTSHOORN NUUS - Koperdiefstal raak nou 'n ernstige probleem in Oudtshoorn, dit raak nie net die ekonomie nie, maar plaas ook kritieke infrastruktuur onder druk.
Holgate Fruit & Veg het onlangs ernstige skade gely toe koperdrade en kompressors uit die mure verwyder is.
Michelle Sephon, eienaar van die besigheid, sê die koperdrade is letterlik uit die muur geruk, wat die werking van hul koelkamers tot stilstand gebring het.
"Ons het koelkamers nodig om ons vrugte en groente vars te hou. Die skade het nie net 'n groot finansiële las tot gevolg nie, maar ook beduidende verliese aan voorraad," het Sephon verduidelik. Sy het bevestig dat 'n saak by die polisie aanhangig gemaak is, maar voeg by dat die herstel en vervangingskoste nou ten volle op hul skouers rus.
Op Maandag 21 Julie is 'n woning in Hoogstraat geteiken toe verdagtes helder oordag probeer het om 'n geiser te steel. Die voorval is vinnig aangemeld nadat 'n baba-oppasser, wat alleen met kinders was, 'n verdagte in die agterplaas opgemerk het.
Die Noord-buurtwag en sekuriteitsmaatskappye is dadelik ontbied.
Volgens die huiseienaar is die koperpype van die geiser afgebreek, wat tot water-vermorsing gelei het. Een verdagte is in hegtenis geneem; twee het gevlug en is steeds soek.
AfriForum, asook die Noord-buurtwag het die afgelope maand op 'n hoop gestroopte kabels afgekom wat by 'n plaaslike kwekery in Oudtshoorn-Noord weggesteek was.
Heelwat inwoners meld voorvalle aan waar krane en ander koperitems uit erwe gesteel word. Selfs tuingereedskap loop deur.
Een inwoner se antieke tuingereedskap is ook uit sy erf gesteel.
Hoekom word koper geteiken?
Die groeiende aanvraag en hoë her-verkoopwaarde van koper maak dit 'n gewilde teiken vir misdadigers. Koper is 'n noodsaaklike komponent in elektriese kabels, waterpype, spoorlyne en telekommunikasietoerusting, infrastruktuur wat dikwels onbewaak en kwesbaar is.
Hoewel die metaal self nie baie werd is nie, kan die skade wat veroorsaak word, miljoene rande beloop en lei tot ernstige onderbrekings in dienslewering.
Polisie reageer
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Christopher Spies, het by navraag geantwoord dat die SAPD nie in die posisie is om interne statistieke rakende koperdiefstal bekend te maak nie.
"Ons kan wel bevestig dat 'n aantal verdagtes gearresteer is vir die besit van vermoede gesteelde eiendom waarvan 33% verdagtes was wat in besit was van koperitems of draad. Ons doen 'n ernstige beroep op inwoners om die plaaslike polisie in kennis te stel van koperdiefstal. Inligting kan ook via Crime Stop by 08600 10111 rapporteer word."
Munisipaliteit reageer
Justin Lesch, direkteur tegniese dienste, noem dat die toename in koperdiefstal in Oudtshoorn veral gesentreer is rondom diefstal van elektriese kabels en konvensionele koperwatermeters.
"Die jaar 2023/24 het 'n uitsonderlike styging in koperdiefstal getoon, met talle verdagtes wat in hegtenis geneem is, alhoewel daar steeds persone is wat vervolg moet word.
'n Groot uitdaging bly egter die wisselvallige samewerking van rolspelers soos skroothandelaars, wat dikwels skroot aanvaar sonder om aktief by te dra tot die oplossing van die probleem.
Verder vererger diefstal omdat gesteelde materiaal dikwels opgekap word, wat dit moeilik maak om die oorsprong daarvan te identifiseer wanneer dit by skroothandelaars aangebied word."
Lesch noem hoewel geldwaardes nie op hierdie stadium gegee kan word nie, beloop die koste aan die munisipaliteit reeds enkele duisende rande en het dit 'n nadelige impak op die operasionele begroting van die munisipaliteit.
Indien hierdie patroon van herhaalde diefstal voortduur, sal dit ongetwyfeld 'n direkte invloed hê op die dienslewering, aangesien die beskikbare hulpbronne verminder en herstelwerk vertraag word."
Daar word 'n ernstige beroep op die gemeenskap gedoen om hierdie misdade proaktief aan die polisie, sowel as die munisipaliteit te rapporteer.
"Hierdie is 'n gesamentlike verantwoordelikheid waaraan almal deel moet hê om die probleem suksesvol aan te pak. Die munisipaliteit kan hierdie uitdaging nie alleen hanteer nie, en samewerking van alle betrokkenes is noodsaaklik."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’