LADISMITH NUUS - Die polisie is tans besig met 'n ondersoek nadat 'n hond, Tiger, na bewering op 3 Junie agter 'n bakkie aangesleep is en op dié wrede wyse doodgewurg het.
Tiger het op 2 Junie sy eienaar, Elizabeth Joon (68), by haar huis in Droëvlei, Zoar, gebyt. Joon het ernstige beserings aan haar gesig en arm opgedoen.
Die aanval het laatmiddag gebeur toe sy by haar agterdeur uitgestap het. "Hy het my uit die bloute aangeval. Hy het eerste vir my gesig gegaan en toe weer gespring en my arm gebyt. Ek het met my arm my gesig probeer beskerm."
Joon is na die Alan Blyth-hospitaal in Ladismith geneem vir mediese behandeling. Volgens haar was Tiger die afgelope vyf jaar in hul sorg, maar het hy onlangs onvoorspelbaar begin optree ná die geboorte van haar dogter se baba. "Dis asof hy jaloers geword het," sê sy.
Elizabeth Joon het ernstige bytwonde opgedoen. Foto: Deon Meyer
Volgens 'n persoon na aan Joon het Tiger na dié voorval losgebreek. "Tiger het los rondgeloop. 'n WhatsApp-boodskap is rondgestuur dat inwoners versigtig vir die hond moet wees."
Volgens die vrou het hulle die Karoo Animal Protection Society (Kaps) vir hulp genader, maar die organisasie was nie op daardie stadium beskikbaar nie. Die polisie is ook glo vir hulp genader.
Colette Teale, Kaps se voorsitter, het vertel dat hulle reageer het op 'n klag van 'n inwoner van Calitzdorp oor 'n hond wat agter 'n voertuig aangesleep is. Tiger se liggaam is later by die plaaslike stortingsterrein aangetref, met 'n tou steeds om sy nek, beserings aan sy lyf en kop, en duidelike tekens van trauma.
Die hond is na 'n veearts in Swellendam geneem vir ondersoek. "Die veearts het bevestig dat die hond nog geleef het toe hy aangesleep is en uiteindelik verwurg het. Daar was ook frakture aan sy kop," het Teale gesê.
Dit is egter nog nie duidelik wie die persone is wat vir die hond se dood verantwoordelik is nie.
Die vrou wat die voorval sien gebeur het, het gesê die toneel het haar diep getraumatiseer. "Daardie prentjie gaan ek ongelukkig nooit kan vergeet nie. Ek was onderweg van Ladismith na Calitzdorp. Ek het eers gedink dis 'n sak wat gesleep word, maar later besef dis 'n hond. Ek het eers Friends of Calitzdorp Animals [Foca] gebel en is toe na Kaps verwys. Beide organisasies het fantastiese werk gedoen om met die situasie te help. Mense moet net besef dat sulke optrede onaanvaarbaar is."
Sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, het bevestig dat die voorval ondersoek word. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’