Video
OUDTSHOORN NUUS - Kabel- en metaaldiefstal, die onwettige handel in gesteelde metaal, asook die voortdurende opkap en verbranding van metaalvoorwerpe, neem volgens inwoners en gemeenskapsorganisasies kommerwekkend toe in Oudtshoorn.
Volgens 'n inwoner, wat verkies om anoniem te bly, is dit 'n daaglikse verskynsel in Jonesstraat waar metaal en koperkabels openlik op munisipale grond verbrand word.
"Persone brand die metaal, veral koper-kabels, om die plastiekomhulsels te verwyder. Die koper word daarna aan plaaslike skrootwerwe verkoop."
GPF is bekommerd
Die probleem is onlangs tydens die maandelikse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-vergadering bespreek.
Volgens Ian Avontuur, direkteur van gemeenskapsdienste by die Oudtshoorn-munisipaliteit, word munisipale infrastruktuur stelselmatig geteiken. Dit het reeds skade van miljoene rande veroorsaak.
Hy het daarop gewys dat sekere skuiwergate in bestaande regulasies moontlik misbruik word wanneer dit kom by die aankoop van staal.
Volgens hom is die vereiste om identifikasie te verskaf en ander standaardregulasies nie noodwendig op transaksies van minder as R100 van toepassing is nie.
Daar is verder genoem dat die aankoop van items waarvan die oorspronklike vorm verander is, soos gebrande kabels, normaalweg streng gereguleer of verbied word. Die toepassing en afdwing van hierdie bepalings bly egter 'n uitdaging.
Die GPF doen 'n beroep op inwoners om verdagte aktiwiteite en gevalle van kabel- en metaaldiefstal onmiddellik by die polisie aan te meld.
Munispale koperkabels word gereeld gevandaliseer. Foto: verskaf
Koper gewilde teiken
Jacques Broodryk, AfriForum se woord-voerder vir gemeenskapsveiligheid, sê koper-kabels is die gewildste teiken van diewe weens hul hoë herverkoopwaarde, terwyl aluminium- en telekommunikasiekabels ook dikwels gesteel word.
Volgens hom is die ekonomiese impak van kabeldiefstal enorm en raak dit ondernemings, huishoudings, hospitale, skole en vervoerdienste.
"Kragonderbrekings ontwrig daaglikse bedrywighede en kan selfs tot sterftes weens elektriese skokke lei."
VIDEO: Beeldmateriaal van die kabels wat gebrand word
Broodryk verduidelik dat gesteelde kabels dikwels verbrand word om die plastiekomhulsel te verwyder, waarna die koper aan skrootwerwe verkoop word.
Hy meen kabeldiefstal word nie doeltreffend genoeg vervolg nie. "Die skuldigbevindingskoers bly laag, howe is oorlaai en ondersoekspanne het nie altyd voldoende forensiese hulpbronne nie. Verdagtes word ook gereeld op borgtog vrygelaat," sê hy.
Munisipaliteit reageer
Candice Biscombe, mediawoordvoerder vir Oudtshoorn-munisipaliteit het gesê: "Die munisipaliteit bevestig dat verskeie voorvalle van kabeldiefstal onlangs regoor sy elektriese netwerk aangemeld is. Die meeste gevalle behels die diefstal van huishoudelike diensverbindings, beter bekend as Airdac-lugkabels, wat vanaf elektrisiteitspale na woonhuise loop. Om die probleem te bekamp, is die bestaande koperkabels geleidelik met aluminiumgeleiers vervang, aangesien dié materiaal minder waarde vir diewe inhou."
Volgens Biscombe is ondergrondse straatligkabels, veral in Rose Valley en langs die N12 tussen Johnson's Bricks en die gholfbaan, herhaaldelik die teiken van diewe.
"Dit is aangemeld by polisie en saaknommers is gekry."
Volgens haar is 'n kontrakteur intussen aangestel om die beraamde koste van herstelwerk aan die beskadigde straatliginfrastruktuur te bepaal. "Die kontrakteur ondersoek ook alternatiewe installasiemetodes wat die risiko van toekomstige kabeldiefstal kan verminder. Die munisipaliteit doen 'n beroep op inwoners om enige verdagte aktiwiteite of gevalle van kabeldiefstal aan te meld."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’