Update
LADISMITH-NUUS - Die 32-jarige Johan Guza van Ladismith, wat op Ou Kersdag 2023 ’n buitelandse spazawinkeleienaar doodgesteek en sy vennoot ook vier keer gesteek het, is in die Ladismith-streekhof aan moord en poging tot moord skuldig bevind en vonnisverrigtinge is tot 23 Januarie uitgestel.
Guza se verweer dat hy homself verdedig het, is deur die hof as vals verwerp.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak van langer as twee ure gesê Guza het die opset gehad om moord te pleeg en ook byna ’n tweede.
Die hof het bevind dat hy die grense van selfverdediging oorskry het omdat sy twee slagoffers nie enige wapens by hulle gehad het nie. En sy lewe nooit in gevaar was nie.
Volgens Teshalei Africho het die oorledene hom te hulp gesnel toe Guza hom sonder rede vier keer met ’n mes gesteek het. Guza het die oorledene toe eenkeer in sy bors gesteek.
Die saak is vir voorvonnisargumente en vonnis tot 23 Januarie uitgestel. Guza bly in aanhouding.
Elaine Plaatjies het vir die staat en Margaretha Aucamp van die Regshulpraad vir Guza verskyn.
Vorige berig:
Saak teen Johan Guza vir uitspraak uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’