OUDTSHOORN NUUS - ‘n Jong man van Bongolethu, wat homself aan ‘n 74-jarige vrou ontbloot het, is verlede week in die streekhof ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê en vir drie jaar in huisarres geplaas.
Simphiwe Blaauw (20) het op 1 Februarie 2023 na hul buurvrou se huis gegaan en vir ‘n bietjie water gevra om te drink.
Die bejaarde vrou het getuig dat sy onrustig geword het toe hy lank aan die water gedrink het. Toe hy probeer om die deur toe te maak het sy hom gekeer. Hy het hom toe skielik aan haar ontbloot en sy het baie groot geskrik.
Nadat hy weggehardloop het, het sy haar kierie gevat en na die polisiekantoor gestap.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat ‘n algehele opgeskorte vonnis nie gepas sal wees nie en hom summier uit die gemeenskap te verwyder ook nie.
Hy is gewaarsku dat indien hy nie voorgeskrewe programme bywoon nie die opgeskorte vonnis in werking gestel sal word.
Blaauw is, behalwe vir die opgeskorte vonnis, ook tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis. Die korrektiewe toesig behels onder andere 24 uur per dag huisarres, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes, en dat hy hom weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol.
Hy mag ook nie die distrik van Oudtshoorn sonder die medewete van ‘n korrektiewe beampte verlaat nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’