DYSSELSDORP NUUS - 'n Bewusmakingsveldtog oor die gevare van lewendige kragdrade en infrastruktuur-vandalisme word later vandeesmaand in Dysselsdorp aangebied na die tragiese dood van 'n negejarige seun.
Eskom het inwoners van Dysselsdorp genader om by die veldtog betrokke te raak, waarna Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) besluit het om hande te vat met die inisiatief.
Die veldtog word van 22 tot 24 Junie by skole in die Dysselsdorp-gemeenskap aangebied.
Die veldtog volg na die dood van Behaigo Lamini (9), wat op 19 April doodgeskok is nadat hy en twee maats aan 'n afgesaagde kragpaal geraak het.
Die ander twee kinders het slegs beserings opgedoen.
Ná die voorval het inwoners hul kommer uitgespreek oor die toenemende vandalisme van elektrisiteitsinfrastruktuur en kabeldiefstal.
Verskeie gemeenskapslede het destyds beweer dat kragpale afgesaag en verkoop word, en het daarop aangedring dat die oortreders sowel as die aankopers aan die kaak gestel en vervolg moet word.
Volgens Leon Campher van OCAC is die hoofdoel van die veldtog om groter bewustheid oor die gevare van sulke misdade te skep.
"Ons gemeenskappe gaan deesdae gereeld gebuk onder vandalisme en die diefstal van kragpale en kragdrade, wat soortgelyke tragedies kan veroorsaak. Dit is daarom belangrik dat alle inwoners die veldtog ondersteun. Ons beoog om saam met Eskom en ander rolspelers hierby betrokke te raak," het Campher gesê.
Hy het bygevoeg dat die veldtog daarop gemik is om veral jongmense in te lig oor die gevare van lewende kragdrade en die gevolge van infrastruktuurvandalisme vir gemeenskappe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’