OUDTSHOORN NUUS - Eljada Nasorg vir volwasse persone met Intellektuele Gestremdhede loop reeds 'n geruime tyd onder diefstal deur, maar die afgelope tyd gebeur dit meer gereeld.
Eljada is aan die bo-kant van Victoriastraat, naby die gevangenis geleë. Tussen die gevangenis en Eljada is 'n groot oop stuk veld waar daar gereeld leeglêers en sakkrappers opgemerk word.
Oudtshoorn Courant het twee jaar gelede berig oor die gevangenis se heinings wat ook afgesteel word.
Alta Swart, sekretaresse by Eljada, vertel dat hulle hierdie jaar al ongeveer drie redelike ernstige voorvalle gehad het.
"Ons het nie 'n veiligheidsheining om die sentrum nie. Dit is eintlik net 'n gewone ogiesdraadheining, en hy is ook nie besonder hoog nie. Dié heining word gereeld gesteel. Hulle knip dit net eenvoudig af, al vervang ons dit. Dit is 'n massiewe veiligheidsrisiko vir ons inwoners."
Volgens haar is daar vanjaar reeds twee klagtes by die polisie oor die diefstal en vandalisme ingedien.
Waterpype word ook afgesteel. Foto verskaf
"Hulle het verlede week hier ingekom en die waterpype letterlik uit die muur gesteel. Toe ons die volgende oggend hier aankom toe spuit die water al 'n geruim tyd. Dit is die tweede keer in 'n kort tydjie wat ons waterpype gesteel word. Die booswigte het nou al so mak geword dat hulle eenvoudig die perseel betree en aan die huismoeders se deure klop. Ons kan hulle nie uit hou nie. Dit beteken dat hulle toegang reg rondom die hele perseel het," vertel sy.
Volgens haar is daar ook vroeër vanjaar uie wat aan Eljada geskenk is, uit 'n hokkie aan die buitekant van die sentrum waarin hulle dit gestoor het, gesteel.
Asof die diefstalle nie erg genoeg is nie, het hulle ook 'n probleem met die bosslappers in die veld.
Nuwe heinings wat opgesit word, word net weer afgesteel. Foto's: Liezl van Niekerk
"So 'n rukkie gelede is hulle net hier langs ons verwyder toe hulle begin plak het en hulle het amper almal wapens by hulle."
Swart het ook vertel van 'n voorval waar 'n groep mans met honde die hase kom jag het en 'n ander groep mans hulle met kapmense verjaag het.
"Dit traumatiseer die inwoners en hulle is bang. Dit is nie vir hulle mooi om te sien hoe die honde die diere vang nie, en dit is absoluut vreesaanjaend om te sien hoe mense mekaar met kapmesse rondjaag. Hulle is nou bang vir mense in die veld."
Gerda Swart, Eljada se nuwe bestuurder, sê hulle het nie die fondse om self sterker en hoër heinings op te sit nie.
"Ons is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat net genoeg kry om na die inwoners om te sien en salarisse te betaal. Ons huisves tans ongeveer 98 inwoners," verduidelik sy.
Gerda sê dat hulle wel fondsinsamelings reël, maar vra ook die hulp van die gemeenskap om meer by die sentrum betrokke te raak.
"Ons was nog altyd afhanklik van skenkings om ons perseel in stand te hou en ekstra vir die inwoners te kan doen. Ons is ook besig met 'n groentetuin, maar ons is bang dat die produkte gesteel word. Ons inwoners werk so hard daaraan en is so trots daarop," vertel sy.
Indien iemand bereid is om te help kan Eljada by 044 2791740 gekontak word of 'n e-pos kan aan gswart@etime.co.za gestuur word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’