OUDTSHOORN NUUS - Pogings deur die polisie om middelmisbruik uit te roei wat steeds van die groot bydraers tot ernstige en gewelddadige misdade oor naweke bly, het uitstekende resultate opgelewer met die inhegtenisneming van 70 verdagtes vir dwelm- en drankverwante oortredings in die Tuinroete-distrik die afgelope naweek.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die inperkingsoperasies wat op dwelmafsetpunte gemik was, steekoperasies, gefokusde operasies en stop- en deursoekoperasies ingesluit.
Hoewel meeste arrestasies in George was, is daar in Oudtshoorn ook persone in hegtenis geneem.
Spies sê lede van die Oudtshoorn-misdaadvoorkomingseenheid en misdaadintelligensie het 'n operasie by die Unieplein gehou en beslag gelê op 17 bankies tik en 'n klein hoeveelheid Mandrax.
"Hulle het twee verdagtes van 24 en 34 jaar oud op aanklag van handel in dwelms gearresteer."
Volgens Spies vorm hierdie arrestasies en beslagleggings deel van verskeie operasies wat van stapel gestuur is om gemeenskappe te beskerm met 'n spesifieke doel om geslagsgebaseerde geweld en moorde op vroue hok te slaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’