OUDTSHOORN NUUS - Drie persone is in twee aparte voorvalle Dinsdag 30 Julie in hegtenis geneem vir handel in dwelms en die onwettige besit van ammunisie, alles te danke aan lede van Oudtshoorn se misdaadintelligensie-eenheid, die Attaqua K9-eenhede en Brooke, die plofstofsnuffelhond.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisiebeamptes met Brooke 'n operasie in 22ste Laan, Bongolethu in Oudtshoorn gehad.
"Die lede het met 'n lasbrief die woning deursoek en Brooke het positief op 'n kas in die slaapkamer gereageer. Die span het 'n 37 mm-gasronde en 100 gram tik in 'n laai versteek gevind."
Die polisie het beslag gelê op die items en 'n 21-jarige verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms en die onwettige besit van ammunisie.
Later dieselfde dag is die span na 'n ander adres in dieselfde omgewing na 'n wenk van die publiek.
"Brooke het die span na die slaapkamer gelei waar 800 gram tik, 342 Mandrax-tablette met drie fyngedrukte Mandrax-tablette, 11 9 mm-rondes en nege 7,65 mm-rondes in 'n sak gevind is wat in die kamer versteek was."
Die polisie het twee verdagtes van 21 en 38 jaar in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms asook die onwettige besit van ammunisie.
Spies sê hierdie arrestasies en beslagleggings is deel van voortgesette pogings deur die polisie om ontslae te raak van dwelms, vuurwapens en ammunisie in die gemeenskappe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’