OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen sewe verdagtes van Rose Valley wat van moord op die 19-jarige Anthony Wessels aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof vir formele borgtogaansoeke tot 1 Oktober uitgestel.
Wessels is die aand van Saterdag 14 September voor sy huis doodgesteek. Die sewe verdagtes, Reagan Jaftha (21), Dayini Jacobs (21), Jayden Danster (19), Tyron Sederstroom (18), Genwin Ekstraal (28), Jason Jacobs (22) en Germaine Jacobs (16), staan ook tereg op aanklag van moord. Hulle het die oorledene glo ook met klippe gegooi.
Die staatsaanklaer, Zelda Jass, het die hof vir uitstel gevra en gemeld dat kommer bestaan oor die veiligheid van die verdagtes na beweerde dreigemente.
Landdros N Khan het die saak daarna finaal vir die borgtogaansoeke tot Dinsdag 1 Oktober uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’