OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R15 000 met streng voorwaardes is Vrydag 15 Mei in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan elk van twee broers wat van mensehandel aangekla word.
Amado Hikal (27) en Amaed Ibrahim Hikal (49) word daarvan aangekla dat hulle ’n man wat glo werkloos was vanaf Egipte na Suid-Afrika te laat reis het nadat werk aan hom belowe is. Sy reisdokumente is glo met sy aankoms deur die twee verdagtes gekonfiskeer.
Na bewering het die slagoffer sonder vergoeding gewerk, en is ook glo deur die twee broers aangerand. Die staat het die aansoek teengestaan.
Die ondersoekbeampte, ao. Jannie Koopman van die Valke se George-gebaseerde eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, het tydens kruisondervraging getuig dat Amaed Hikal ’n man is met ’n gewelddadige gedrag en agter tralies gehou moet word. Hy beskik glo ook oor twee paspoorte en is ’n vlugrisiko al word dit ingehandig.
“Dit is baie maklik om Suid-Afrika sonder ’n paspoort te verlaat vanweë ongerymdhede by ons land se grensposte,” het Koopman gesê.
Die regsverteenwoordiger van Amed, Bulelani Bans, het dit aan Koopman gestel dat hy op grond van moontlikhede borgtog teenstaan en dat dit onaanvaarbaar is.
Koopman het later getuig dat hy deurmekaar raak tussen moontlikhede en waarskynlikhede en eintlik laasgenoemde bedoel.
Bans het dit egter aan hom gestel dat sy kliënt borgtog behoort te kry omdat hy nie enige vorige veroordelings of hangende sake het nie, en ook ’n eerste oortreder is. Daar is ook geen getuienis voor die hof dat hy die klaer gedreig het nie.
Rasaad Goliath, regsverteenwoordiger van Amado Hikal, het dit aan Koopman gestel dat die klaer in Johannesburg woonagtig was. Koopman het dit ontken.
Hooflanddros Ryan van Harte het met uitspraak gesê die hof het deeglik gekyk na die klaer se verklaring waarin dit duidelik is dat hy self geld bymekaar gemaak het om vanaf Egipte na Suid-Afrika te kom en in Johannesburg oorgeslaap het, voordat hy na Oudtshoorn gereis het.
Die hof het bevind dat dit wel in belang van geregtigheid is om borgtog aan die twee broers toe te staan.
Borgtogvoorwaardes
Van die borgtogvoorwaardes is dat hulle nie kontak maak met die klaer nie of enige staatsgetuies nie; nie die landdrosdistrik van Oudtshoorn verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie en vier dae per week, Maandae, Woensdae, Vrydae en Saterdae tussen 08:00 en 09:00 soggens en 18:00 en 21:00 saans by die Oudtshoorn-polisiestasie aanmeld.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 15 Julie uitgestel.
Vorige berigte:
- Valke arresteer tweede verdagte in mensehandelondersoek
- Mensehandel in Oudtshoorn: Verdagte (27) in hegtenis na slagoffer uit Egipte gelok is
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’