Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Adjudant-offisier van Dysselsdorp is in die sop nadat hy verlede week met 'n polisievangwa 'n ongeluk in Calitzdorp gemaak het.
'n Video, wat deur twee onbekende persone gemaak is, doen die ronde op sosiale media. Die persone het etlike kilometers agter die voertuig aangery waarin hulle beweer dat die bestuurder van die voertuig onder die invloed van drank bestuur het. In die video kan gesien word hoe die voertuig heen en weer oor die pad ry en telkens byna 'n ongeluk veroorsaak.
"Die man gaan nou die van omgooi," was die reaksie van een van die persone op die video.
Die beampte het net na hy in Calitzdorp ingery het, teen 'n woning se muur vasgery.
Lede van die publiek het glo die polisie in Calitzdorp in kennis gestel.
'n Betroubare bron het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die beampte glo dié jaar aftree en dat hy nie aan diens was toe die voorval gebeur het nie.
Volgens die bron was die bakkie 'n splinternuwe toevoeging tot die Dysselsdorp-polisiestasie.
Die bron het ook gesê dat die ambulans vinnig op die toneel was, maar dat die bestuurder se alkoholvlakke glo nie getoets nie is nie.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word kriminele klagtes van roekelose en nalatige bestuur, asook die gebruik van 'n voertuig sonder toestemming ondersoek. Spies het bevestig dat die polisievoertuig op Maandag 9 Desember omstreeks 19:00 teen 'n muur op die hoek van Voortrekker- en Van Rensburgstraat, Calitzdorp, gebots het.
"Voorlopige verslae, dui daarop dat die polisie deur 'n lid van die publiek oor die ongeluk in kennis gestel is. Met hul aankoms het hulle die voertuig en die slagoffer, 'n polisiebeampte wat nie aan diens was nie, gevind wat reeds in 'n ambulans geklim het om na die hospitaal geneem te word. Omstandighede rondom die ongemagtigde gebruik van die voertuig en ongeluk vorm deel van 'n deurlopende polisieondersoek."
Tuinroete-distrikskommissaris, generaal-majoor Phumzile Cetyana het 'n senior beampte uit sy kantoor aangestel wat reeds met 'n interne ondersoek na hierdie aangeleentheid begin het. Hierdie ondersoek sal parallel met die kriminele ondersoek loop.
Die beampte se identiteit kan nog nie bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie aangekla of gearresteer is nie.
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’