OUDTSHOORN NUUS - Verlof om teen sy effektiewe vonnis van agt jaar gevangenisstraf te appelleer, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan Jolin Andries (36) geweier.
Andries is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan twee aanklagte van strafbare manslag en die bestuur van ’n voertuig met ’n buitensporige hoeveelheid alkohol in sy bloed.
Hy was die bestuurder van ’n Volkswagen Golf wat op die aand van 23 November 2024 op die Dysselsdorp-pad teen ’n paal gebots en daarna omgeslaan het. Twee van sy passasiers, Adrian Fortuin (39) en Lynnique October (22), is in die ongeluk dood.
Die staat het ’n aanklag van dronkbestuur teruggetrek, waarna Andries op die alternatiewe aanklag van bestuur van ’n voertuig met ’n buitensporige hoeveelheid alkohol in sy bloed skuldig bevind is.
Andries het in sy pleitverduideliking gesê hulle het die betrokke aand in Dysselsdorp gekuier en terug Oudtshoorn toe gery omdat die persoon by wie hulle glo sou oornag nie tuis was nie.
Volgens Andries is hy op pad huis toe deur die skerp ligte van ’n aankomende voertuig, wat volgens hom in sy baan gery het, verblind. Hy het uitgeswaai om ’n trompop-botsing te voorkom, waarna hy beheer oor die voertuig verloor en teen ’n paal gebots het.
’n Derde passasier, Kim Lekay, is in die ongeluk beseer.
Adv. Benito Metembo het tydens Andries se aansoek om verlof tot appèl aangevoer dat die hof op verskeie gebiede fouteer het en dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander beslissing kan kom. Hy het aangevoer dat die vonnis skokkend swaar is.
“Die applikant respekteer die hof se beslissing, maar stem nie daarmee saam nie,” het Metembo gesê.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die aansoek teengestaan en gesê hy stem nie met die verdediging se standpunt saam nie.
“Twee mense het hul lewens verloor en die vonnis is glad nie buitensporig nie.”
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat daar geen redelike vooruitsig is dat ’n ander hof tot ’n ligter vonnis sal kom nie. Hy het bygevoeg dat die vonnis regverdig is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’