LADISMITH NUUS - 'n 80-jarige vrou van Zoar, buite Ladismith, moes vir skok behandel word en haar kleindogter kry steeds angsaanvalle na 'n voorval met lede van die polisie verlede Saterdagaand tussen Montagu en Barrydale.
Volgens Charese Prins was hulle as gesin vanaf Kaapstad op pad terug na Zoar na hulle 'n begrafnis gaan bywoon het.
Prins was saam met haar ma, Saralene, agtjarige dogter Shelby en ouma van 80 jaar oud, Dorothy, in die voertuig.
"Dit was omtrent 23:00 Saterdag-nag net so 20 km voor Barrydale wat ons 'n wit bakkie by 'n aftrekplek langs die pad sien staan het. Net 'n rukkie later het die bakkie met sy hoofligte agter ons aangejaag en feitlik teenaan ons gery, maar ons nie verbygesteek nie.
"My ma het bestuur en het paniekerig geword, want ons is net vrouens in die kar. Die bakkie was later langs ons en dit het voorgekom asof hulle ons van die pad wou dwing," het sy vertel.
Die gesin kon daarin slaag om veilig tot in Barrydale te ry.
"Eers toe die vulstasie in Barrydale sigbaar was, het die persone in die dubbelkajuitbakkie 'n blou lig in die kajuit van die ongemerkte bakkie aangesit. My ma het egter nie stilgehou nie, maar reguit tot by die Barrydale-polisiestasie gery."
Sy sê toe hulle by die polisiestasie aankom, het die bakkie ook daar gestop met drie polisielede wat uitgeklim het. Sy vertel dat die drie 'n "bombastiese" houding gehad het en gelag het.
Die gesin wou vasstel om watter rede die polisie hul agtervolg het, maar het geen antwoord ontvang nie.
"Eers toe ons weer in die motor klim om te ry, is my ma gevra om die kattebak oop te maak. Hulle het ook net vlugtig daarin gekyk en gesê ons kan maar ry. Geen dossier is geopen nie."
Die gesin het die voorval by die Ladismith-polisie aangemeld en is hierna na die plaaslike hospitaal waar Dorothy asook die agtjarige Shelby vir skok behandel is.
Die familie het die voorval ook by die Direktoraat: Strategiese Dienste en Kommunikasie aangemeld en is van 'n verwysingsnommer voorsien.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is die voorval aangemeld en onder die aandag van die Barrydale-stasiebestuur gebring, aangesien die voorval in hul polisiëringsgebied plaasgevind het.
"Intussen is die saak by die distrikspolisiebestuur aangemeld wat 'n beampte sal aanwys om die diensleweringsklag en die omstandighede rondom die voorval te ondersoek. Ons bly daartoe verbind om almal met die grootste respek en waardigheid te behandel soos verskans in ons Grondwet en Gedragskode. Vordering met betrekking tot die ondersoek sal direk aan die klaer gekommunikeer word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’