Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-polisiebeamptes het gisteraand, 1 April, dwelms van ongeveer R97 000 in Oudtshoorn gevind.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die beamptes patrollie in Johan Gelderblomstraat, Smartie Town, gery toe hulle ’n voertuig skielik sien wegjaag.
“’n Jaagtog tussen die polisie en die verdagtes het gevolg. Die polisiebeamptes het gesien hoe die verdagtes ’n pakkie uit die bewegende voertuig gooi. Die lede het die voertuig ingehaal en die pakkie ondersoek en 1 934 Mandrax-tablette en 27 halwe Mandrax-tablette gevind."
’n Verdere soektog het gelei tot die beslaglegging van ’n onbekende bedrag kontant wat in besit van die insittendes gevind is. Die lede het op die vonds beslag gelê en die vier insittendes gearresteer op aanklag van handel in dwelms.
Die verdagtes van 20, 34, 35 en 40 jaar oud, vermoedelik van George, bly in polisie-aanhouding. Hulle sal hul eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof maak sodra hulle aangekla word.
Volgens Spies vorm hierdie arrestasies en beslagleggings deel van voortdurende pogings om die onwettige dwelmhandel uit te roei en kwesbare gemeenskappe van dwelms te bevry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’