OUDTSHOORN NUUS - Die bestuurder van 'n Volkswagen Golf waarin twee passasiers in November 2024 dood is en 'n derde beseer is, is in die Oudtshoorn-streekhof op twee aanklagte van strafbare manslag en een aanklag van die bestuur van 'n voertuig met 'n oormatige hoeveelheid alkohol in sy bloed skuldig bevind en tot agt jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis.
Jolin Andries (36) is aanvanklik aangekla op twee aanklagte van strafbare manslag en een van dronkbestuur. Die staat het egter later die aanklag van dronkbestuur teruggetrek en hom op 'n alternatiewe aanklag van bestuur van 'n voertuig met 'n oormatige hoeveelheid alkohol in sy bloed aangekla.
Die ongeluk het die aand van 23 November 2024 op die Dysselsdorp-pad plaasgevind toe die voertuig teen 'n paal gebots en daarna omgeslaan het.
In sy pleitverduideliking het Andries gesê hy en sy passasiers het vroeër die aand in Dysselsdorp gekuier en moes na Oudtshoorn terugkeer nadat die persoon by wie hulle sou oorslaap nie tuis was nie.
Volgens hom is hy onderweg verblind deur die helder ligte van 'n aankomende voertuig wat glo in sy rybaan beweeg het. Hy het uitgeswaai om 'n botsing reg van voor te vermy, beheer oor sy voertuig verloor en teen 'n paal gebots.
Een van die passasiers, Adrian Fortuin (39), 'n pa van twee kinders, is op die toneel dood verklaar. 'n Tweede passasier, Lynnique October (22), het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk. 'n Derde passasier, Kim Lekay, is beseer.
Andries se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om genadig te wees. Hy het aangevoer dat sy kliënt skuldig gepleit het, opreg berou toon, die families van die oorledenes om verskoning gevra het en 'n eerste oortreder is.
Staatsaanklaer Mervan Saaiman het verskeie slagofferimpakverslae aan die hof voorgelees. Alicia Fortuin, weduwee van Adrian, het in haar verklaring gesê sy vergewe Andries en het die hof versoek om nie 'n swaar straf op te lê nie. Volgens haar was die beskuldigde en haar man vriende en was die voorval 'n tragiese ongeluk.
Johanna Bezuidenhout, 'n familielid van Fortuin, het egter gesê sy wil sien dat geregtigheid geskied.
"Sy dood het 'n groot leemte gelaat en sy dogters moet nou sonder hul pa grootword."
Met vonnisoplegging het streeklanddros Ntsoki Moni gesê dit is 'n ernstige oortreding om 'n voertuig te bestuur met byna vier keer die wettige alkoholvlak in die bloed.
Sy het gesê hoewel die slagofferimpak-verslae deeglik oorweeg is, moes die hof ook in ag neem dat die passasiers bewus was dat Andries alkohol gebruik het voordat hulle saam met hom in die voertuig geklim het.
Andries is op elk van die twee aanklagte van strafbare manslag tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word. Op die aanklag van bestuur met 'n oormatige hoeveelheid alkohol in sy bloed is hy tot nog drie jaar gevangenisstraf gevonnis.
Sy rybewys is ook vir drie jaar opgeskort.
Metembo het ná vonnisoplegging aangedui dat hulle op 15 Julie teen die vonnis sou appelleer.
Andries is intussen op borgtog van R5 000 vrygelaat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’