OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van die verdagtes wat in hegtenis geneem is ná die beweerde aanranding van drie kinders in Van der Rietstraat op 23 Januarie, het vandag, 24 Februarie, in die Oudtshoorn-landdroshof voortgegaan.
Die borgtogaansoek het reeds gister begin met konst. Tazaan Hamman se getuienis. Die staat staan borgtog teen.
Leon Campher, gemeenskapsleier, het vandag getuig en ’n memorandum voorgelees waarin hy ook redes uiteen gesit het waarom borgtog nie aan Gerda Tait en haar man, James Tait, toegeken behoort te word nie. Die memorandum is vergesel van ’n petisielys wat deur inwoners onderteken is.
Lourens Swanepoel van Coetzee en Van der Bergh Prokureurs, wat vir die beskuldigdes optree, het aangedui dat Campher die indruk skep dat hy die beskuldigdes reeds as skuldig beskou.
Campher het op sy beurt gevra of die verdediging die video van die voorval gesien het. Die hof het hom egter vermaan en opdrag gegee om die verdediging se vrae direk te beantwoord en slegs oor sy redes om borgtog te teen te staan te getuig.
Die saak is tot môre 25 Februarie uitgestel.
James Tait is op Maandag 16 Februarie in hegtenis geneem, kort nadat sy vrou, Gerda Tait, en hul medebeskuldigde, Johann Scholtz, hul eerste hofverskyning gemaak het.
Die egpaar en Scholtz het vroeër in Februarie in die hof verskyn in verband met die voorval wat groot reaksie onder inwoners ontlok het.
Die vierde verdagte, Wayne Ellis, is verlede week in hegtenis geneem. Hy het reeds borgtog aansoek gedoen en is teen R5 000 vrygelaat.
Lees meer in die week se Oudtshoorn Courant.
Vorige berigte:
- Borgtog van aanrandingsaak begin vandag
- Derde persoon vas na aanranding-voorval
- Third assault suspect in court
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’