Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die onwettige handel in dwelms in Oudtshoorn is ’n groot knou toegedien met die suksesvolle vervolging van ’n bekende dwelmhandelaar, Mervin Langeveldt (37). Hy is op 16 April in die Oudtshoorn-landdroshof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Buiten die tronkstraf het hy ook ’n boete van R10 000 of twee jaar tronkstraf ontvang vir die verbreking van die Wet op Medisynebeheer, asook die Nasionale Kredietwet. Hy was in besit van onwettige medisyne sonder ’n geldige voorskrif.
Op 10 Julie 2024 het lede van die Oudtshoorn-misdaadsvoorkomingseenheid en die Attaqua K9-eenheid op Langeveldt se woning in Pearlstraat toegeslaan nadat inligting ontvang is dat hy met dwelms handel dryf.
Tydens die operasie is 238.8g metamfetamien (tik) ter waarde van R83 580, Metandieno-tablette, 10ml testosteroon cypionaat,’n skootrekenaar, asook twee selfone gekonfiskeer.
Daar is ook ’n onbekende bedrag kontant gekonfiskeer wat na bewering gebruik is om aan mense geld te leen. Twee inwoners, ’n man en vrou, is in hegtenis geneem.
Die twee het aanvanklik klagte van handel in dwelms, besit van gesteelde goedere, asook die verbreking van die Wet op Medisynebeheer en die Nasionae Kredietwet, in die gesig gestaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’