OUDTSHOORN NUUS - 'n 68-jarige man van Colridge View, Oudtshoorn, het verlede Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van dieremishandeling verskyn.
Die klag spruit uit 'n voorval in Junie 2023 waartydens Colleen Smith, voorsitter en stigter van Oudtshoorn Dogs in Need, 'n dierewelsynsorganisasie, sewe veghonde wat in haglike omstandighede geleef het, uit die eienaar se sorg verwyder het. Een van die honde was reeds dood toe sy by die huis opgedaag het.
Smith sê sy het 'n klag ontvang van honde wat ondervoed was en in hokke agter in 'n erf aangehou word. Volgens haar het die persoon wat haar gebel het gesê dat hulle al met die eienaar van die honde probeer gesels het, maar dat hy kwaad raak wanneer hulle met hom oor die honde praat.
Niks sou haar egter kon voorberei vir die hartseer en die verwaarlosing wat sy aangetref het toe sy die huis besoek het nie.
"My hart was absoluut in stukke. Agter in die erf was sewe pitties, twee het in 'n klein hokkie gestaan en die ander was aan kettings vasgemaak. Daardie hokkie was so klein dat hulle nie eens regtig kon draai nie. Die een hond wat in die hok was, was reeds dood, waarskynlik weens wanvoeding. Hy was geweldig maer en uitgeteer. Die hond langs hom was so getraumatiseerd oor dit. Nog twee honde was in houthokke toegesluit en met kettings binne die hokke vasgemaak. Die honde se voete was vrot van die sere soos hulle in die nattigheid van hul eie urine en ontlasting moes staan. Dit beteken ook dat daardie honde, of nooit, of baie min uit die hokke gelaat is, of van die kettings afgehaal is."
Smith sê sy kon sien dat die kettings om die honde se nekke heeltemal te swaar was en dat dit al so vasgeroes was dat dit met 'n boutsnyer afgehaal moes word.
"Dit was afskuwelik en tragies om te dink dat mense voel dit is okay om honde in die tipe omstandighede te los."
Net vier van die honde leef nog, een hond moes weens sy toestand uitgesit word.
Smith het onder andere vir Ansa de Jager, eienaar van Oudtshoorn-diereherberg, ook 'n dierewelsynsorganisasie, genader om te help met die vervoer van die honde.
"Dit was regtig vieslik daar. Die kettings was kort, daar was nie water- of kosbakke nie. Die honde het eenvoudig net verwaarloos en hartseer gelyk. Ek het twee van die honde weggery omdat die honde te aggressief was om in een voertuig te laai."
Hierdie voorval het opnuut die kwessie rondom die onwettige teling van honde aangewakker.
Smith sê hulle hanteer daagliks hordes soortgelyke gevalle.
"Dit is kommerwekkend om te sien dat daar geen optrede van enige instelling is om regulasies af te dwing wanneer dit kom by onwettig teling en die versorging van diere nie. Veral wanneer dit kom by powerbreeds soos pitties. Dit is ook ongelooflik moeilik om vir honde wat uit sulke omstandighede kom huise te kry omdat hulle so aggressief is. Wat is die toekoms van so 'n hond?"
De Jager sê sy word weekliks geskakel oor mense wie se honde deur veghonde aangeval word.
"Die honde loop los in die strate of spring sommer oor bure sy heinings. Die probleem lê nie by die ras van die hond nie, maar by die eienaar wat hulle op onverantwoordelike maniere aanwend en aanhou. Geen hond moet mee baklei word nie en die teling van die honde word ook nie reg hanteer nie. Niemand is egter bereid om verantwoordelikheid te neem vir die toepassing en afdwing van wette rondom die aanhou en teel van honde nie."
Die hofsaak
Die hofsaak is Vrydag, tot 23 Januarie 2025 uitgestel. Luidens die klagstaat word die eienaar daarvan aangekla dat hy onregmatig die diere mishandel en verwaarloos het. Hy word ook aangekla vir die feit dat hy "'n dier onnodig of onder sodanige toestande ingeperk het en met kettings vasgebind het op so 'n wyse of posisie dat dit daardie dier onnodige lyding veroorsaak het; of in enige plek laat staan wat onvoldoende spasie, ventilasie, lig, beskerming of skuiling teen ongure weersomstandighede bied."
Verder lui die klagstaat dat hy ook aangekla word vir die feit dat die honde ondervoed was, en nie kos en water gehad het, en dat hy opsetlik die honde in vuil omstandighede aangehou het en toegelaat het dat hulle besmet geraak het met uitwendige parasiete en versuim het om vir die honde mediese behandeling te kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’