OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Beaufort-Wes, wat skuldig bevind is aan verkragting, poging tot verkragting en seksuele aanranding, is verlede week in die Blue Downs-streekhof tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy effektief 15 jaar sal sit.
Die saak is oorspronklik in die Oudtshoorn-streekhof aangehoor, maar is later na die Blue Downs-streekhof oorgeplaas omdat die betrokke landdros tans daar werksaam is.
Selwyn Visagie (39) is daaraan skuldig bevind dat hy in Junie 2023 'n 12-jarige meisie probeer verkrag het. Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy die kind se tante seksueel aangerand het.
Die kind het tydens die verhoor in die Oudtshoorn-streekhof deur middel van 'n tussenganger getuig.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof Vrydag versoek om Visagie lewenslank tronk toe te stuur op die aanklag van verkragting.
Streeklanddros Sylvia Mandla het egter bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van 25 jaar vir verkragting van 'n minderjarige en het hom tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Daarbenewens is hy tot vyf jaar vir poging tot verkragting en vyf jaar vir seksuele aanranding gevonnis. Dit sal samelopend met die vonnis vir verkragting uitgedien word vir effektiewe tronkstraf van 15 jaar. Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’