OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Volmoed buite Oudtshoorn, wat ‘n 12-jarige verstandelik gestremde seuntjie wat aan hom bekend is, verkrag het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof gevangenisstraf van 25 jaar opgelê.
Damian Witbooi (24) het onskuldig gepleit en gesê dat die seun hom toestemming gegee het om met hom seks te hê. Die hof het egter bevind dat sy weergawe nie redelik moontlik waar is nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir ‘n vonnis van ten minste 25 jaar gevra omdat Witbooi aan ‘n baie ernstige misdaad skuldig bevind is. Die kind sê in ‘n impakverslag dat hy kwaad is vir die beskuldigde en hom haat. Hy slaap sleg, wil nie skool toe gaan nie en vra dat hy vir baie lank tronk toe moet gaan.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Witbooi het nie oop kaarte met die hof gespeel nie en toon ook geen berou vir die gruwelike daad nie.
"‘n 12-jarige verstandelik gestremde kind kan nie vir seks toestemming gee nie," het die landdros gesê.
Witbooi is ook nie ‘n eerste oortreder nie. Die hof het sy ouderdom en tydperk in aanhouding in ag geneem en afgewyk van die minimum vonnis van lewenslank. Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’