OUDTSHOORN NUUS - ’n 22-jarige man van Oudtshoorn is in die streekhof tot altesaam 21 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede, aanranding met die opset om ernstig te beseer en diefstal uit ’n motorvoertuig.
Quen Hartnick het op 2 November 2024 ’n 56-jarige man in Curtisstraat met ’n kapmes gedreig en hom van sy laaste R18 beroof.
In September 2024 het Hartnick ook ’n battery uit die voertuig van ’n bejaarde vrou in Van der Merwestraat gesteel. Op 30 April 2024 het hy ’n 35-jarige man in Petunialaan met ’n mes in sy hand en arm gesteek. Hy het op die aanklag van diefstal skuldig gepleit.
Sers. John van Zyl het getuig dat hy en ’n kollega op 2 November 2024 op patrolliediens was toe ’n bejaarde man hulle voorgekeer en meegedeel het dat hy pas beroof is. Die slagoffer het Hartnick aan die beamptes uitgewys.
Volgens Van Zyl het Hartnick probeer weghardloop en ’n voorwerp oor ’n heining gegooi. Met verdere ondersoek is ’n lang mes gevind.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof versoek om ’n swaar vonnis op te lê omdat Hartnick volgens hom ’n gevaar vir die gemeenskap inhou.
Die bejaarde vrou wie se voertuig geteiken is, het in ’n slagofferimpakverslag gesê dat sy sedertdien baie onveilig voel. Sy woon alleen en kyk voortdurend oor haar skouer.
Met betrekking tot die roofklagte het Saaiman gesê Hartnick was gelukkig dat die slagoffer nie enige fisieke beserings opgedoen het nie.
Hartnick se regshulpprokureur, Margaretha Aucamp, het die hof versoek om in ag te neem dat haar kliënt vir ’n lang tydperk verhoorafwagtend was, nog jonk is en op die diefstalklag skuldig gepleit het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het gesê dit is duidelik dat Hartnick geen respek vir ander mense se eiendom het nie. Sy het bevraagteken waarom hy ’n bejaarde man van R18 sou beroof terwyl hy volgens sy eie getuienis ongeveer R1 000 in sy besit gehad het.
Volgens Moni bly roof ’n ernstige misdaad, ongeag die bedrag wat gesteel word. Volgens haar moet Hartnick vir ’n lang tyd uit die gemeenskap verwyder word aangesien vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking op hom gehad het nie.
Hartnick is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir roof, ses jaar vir diefstal uit ’n motorvoertuig en vyf jaar vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die hof het gelas dat die vonnisse nie gelyktydig uitgedien mag word nie, wat sy effektiewe vonnis op 21 jaar tronkstraf te staan bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’