OUDTSHOORN NUUS - Die 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders-veldtog het op 25 November afgeskop met 'n spesiale padblokkade by die ingang van Oudtshoorn op die hoek van Voortrekker- en Parkweg.
Lede van Oudtshoorn-polisie, die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD), geestelikeleiers, asook lede van AfriForum het die aksie bygewoon waar pamflette oor bewusmaking aan motoriste uitgedeel is.
Waar kom dit vandaan?
25 November is deur die Verenigde Nasies as Wêrelddag vir die beëindiging van geweld teen vroue verklaar, omdat dit die herdenking is van die moord op drie van die Mirabal-susters, wat politieke aktiviste in die Dominikaanse Republiek was. Die veldtog kom op 10 Desember tot 'n einde, wat ook Internasionale Menseregtedag is.
Wêreldvigsdag op 1 Desember val ook binne die tydperk van die veldtog.
Die doel van die 16 dae van aktivisme-veldtog is juis die bemagtiging van vroue en kinders, asook om fondse in te samel vir organisasies wat met slagoffers van geweld teen vroue en kinders werk. Veranderinge in die wet op gesinsgeweld is ook aangepas om kwesbare persone soos kinders, bejaardes en persone met gestremdhede in te sluit.
Enigiemand, ongeag ouderdom, ras, seksuele oriëntasie of opvoedkundige agtergrond, kan enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ervaar. Individue wat geweld ervaar, kan emosionele, geestes-, fisieke en seksuele gesondheidsprobleme ervaar.
Statistiek
Volgens statistiek van die departement sosiale ontwikkeling is daar 'n sigbare toename in die aantal gevalle wat aangemeld word, asook vroue wat om hulp aanklop. In die 2023/2024 boekjaar is 24 564 gevalle aangemeld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’