OUDTSHOORN NUUS - Die gemeenskap van Calitzdorp was die naweek in skok na ’n 14-jarige seun vir moord in hegtenis geneem. Die voorval het op 5 Julie gebeur.
Volgens ’n bron het die oorledene, Lorenzo van Rooyen (24) en die verdagte Saterdagaand saam by ’n sjebien gekuier. Daar het later ’n stryery tussen ’n groep ontstaan.
Van Rooyen wou glo keer toe die 14-jarige hom buite die sjebien gesteek het.
Anthony Ewerts, bekende kerk- en gemeenskapsleier het gesê die wyse waarop Lorenzo gesterf het is tragies.
“Ek doen ’n beroep op kalmte. Dis altyd tragies as jongmense aan die hand van geweld sterf. Geestelike leiers moet hande vat met alle regeringsinstansies en misdaad beveg.”
Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder het by navraag gesê: “Die polisie ondersoek ’n klag van moord na die dood van die 24-jarige jongman in die straat naby ’n sjebien. ’n 14-jarige is vir die moord in hegtenis geneem. Die verdagte bly in aanhouding en sal na ’n jeugfasiliteit verwys word.
Verskeie aksies was al teen die betrokke sjebien geneem. Aksies sal volgehou word om onwettige handel in drank te stop.”
Van Rooyen se familie wou nie kommentaar lewer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’