Advertorial
OUDTSHOORN NUUS - Wat twee dekades gelede as ’n klein onderneming met net twee personeellede begin het, het gegroei tot ’n gevestigde besigheid met agt toegewyde werknemers en ’n indrukwekkende reeks produkte en dienste.
ProWorx se sukses is gebou op drie eenvoudige beginsels: beste diens, beste prys en beste kwaliteit - waardes wat steeds die kern van die onderneming vorm.
Van nuwe begin tot gevestigde naam
Charl Meyer, trotse eienaar van ProWorx, het die besigheid in 2006 begin en kort daarna uit die polisie getree.
“Dit was tyd vir ’n nuwe uitdaging. Ek het aanvanklik met rekenaars gewerk en kraggereedskap herstel, maar het besluit om ook advertensieborde te begin druk.”
Wat gevolg het, was ’n uitdagende maar lonende reis.
Volgens Meyer was dit nie maklik om ’n splinternuwe besigheid van niks af op te bou nie.
Hy glo die onderneming se volgehoue sukses is te danke aan God se genade, harde werk, kwaliteit diens, getroue kliënteondersteuning en ’n uitstekende span wat saam met hom werk.
Alles-in-een oplossing vir besighede
Vandag bied ProWorx ’n volledige alles-in-een oplossing met ’n wye reeks naamborde-, druk- en ontwerpdienste.
Die onderneming vervaardig en verskaf onder meer stempels, gazebo’s en baniere, vinielplakkers, etiketontwerp, lasersnywerk, advertensieborde en handelsmerkprodukte.
Hierdie uitgebreide diensaanbod stel kliënte in staat om al hul bemarkings- en handelsmerkbehoeftes onder een dak te hanteer.
Verhoudings bou, nie net besigheid nie
Vir Meyer gaan sukses oor meer as net produkte en verkope.
“Ek hou daarvan om saam met my kliënte ’n pad te stap en verhoudings te bou.”
Hy glo sterk daarin om plaaslik te ondersteun en aktief deel te wees van die Oudtshoorn-sakegemeenskap.
“Die dorp het die afgelope twee jaar geweldig gegroei en ons is trots om deel van Oudtshoorn te wees. Ons glo daarin om terug te gee en ons deel vir die gemeenskap te doen.”
Groei wat geen grense ken
Alhoewel ProWorx diep in Oudtshoorn gewortel is, strek hul diensgebied wyd oor die Suid-Kaap, met projekte wat selfs so ver as Rawsonville voltooi is.
Twintig jaar ná daardie nederige begin, groei die onderneming steeds van krag tot krag, ’n bewys dat volharding, kwaliteit werk en sterk kliënteverhoudings die fondament van blywende sukses vorm.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’