OUDTSHOORN NUUS - Behalwe dat die Oudtshoorn-besigheidskamer Woensdagaand sewe lede ryker geword het, is drie belangrike kwessies vir inwoners en sakemense ook aangeraak.
Complectus Welvaar Blouster Finansiële Adviesdienste het die aand aangebied en hulle gasspreker, Danie Lourens - senior produkspesialis van Sanlam, het 'n insiggewende aanbieding oor beleggings gedoen.
Sy aanbieding is voorafgegaan deur twee ander sprekers. Jaco Vorster, koördineerder van die Ek is Oudtshoorn-projek het gesels oor die sogenaamde boom van eenheid wat langs die R62 beplan word.
Die bekende skewe boom wat sowat 'n kilometer buite die dorp gegroei het, is drie weke gelede sonder enige waarskuwing of verduideliking, deur die provinsiale paaie-afdeling afgesaag.
Dit het geweldige reaksie by inwoners ontlok. Vorster het verduidelik dat 'n nuwe boom met die samewerking van die weermag, op min of meer dieselfde plek, maar binne die weermag se grond geplant gaan word.
Benewens die boom word daar ook met die hulp van die besigheidskamer en ander belangstellendes, beplan om vanjaar 600 bome in Oudtshoorn aan te plant.
Die tweede spreker was Dave van der Walt, oud-onderwyser en bekende gesig in Eden-sportkringe. Van der Walt het 'n beroep op die sakegemeenskap gedoen om sportinisiatiewe in die dorp te ondersteun. Hy het daarop gewys dat slegs die groot sportgeleenthede verlede jaar meer as R70 miljoen na die dorp gebring het.
"Dit sluit nie skolesport en ander kleiner sportgebeure en wedstryde in nie," het hy gesê.
Hy het 'n pleidooi gelewer dat die sakegemeenskap en die munisipaliteit die dorp se swembaddens en sportgeriewe in stand hou. "As ons byvoorbeeld die jaarlikse groot swemgala verloor as gevolg van swak onderhoud, kry ons hom waarskynlik nooit weer terug nie."
Van der Walt het voorspraak gemaak vir 'n koeponstelsel waarvolgens sportbesoekers by deelnemende ondernemings afslag kan kry. Hy het gesê hy dink nie inwoners en selfs die owerhede besef watter geweldige finansiële inspuiting sportgeleenthede vir Oudtshoorn beteken nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'