OUDTSHOORN SAKE NUUS - Kobus en Yolandi Leen van Kobus se Kwekery in Van der Rietstraat het onlangs erkenning van Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) gekry as die beste opkomende landboubesigheid van die jaar.
Die Leen-egpaar het die spesiale toekenning op KKSP se jaarlikse glansgeleentheid by Surval Olyf-boetiekhotel ontvang.
Hulle het die kwekery in 2014 met die hulp van die Wes-Kaapse departement van landbou se Cassidra-afdeling begin. Cassidra het die nodige fondse verskaf vir infrastruktuur, wat die kweekhuis met houtstrukture waarop die saadlaaie rus, besproeiing, die pakhuis en noodsaaklike toerus-ting, soos 'n plantmasjien, insluit.
Die Leens het ondervinding van die kwekery-bedryf en bestuur opgedoen terwyl hulle 24 jaar lank by Langkloof Seedlings-kwekery sowat 20 km vanaf Herold gewerk het. "Ek het daar begin werk kort nadat ek gr. 10 op skool voltooi het," vertel Leen. Hy en sy voormalige werkgewer, Patrick Murray, is ook vennote in die Oudtshoorn-kwekery.
By die kwekery in Oudtshoorn word 'n verskeidenheid saailinge gekweek vir Klein-Karoo-boere wat groente vir KKSP en Famous Brands produseer. "Die meeste van ons saailinge word vir KKSP gekweek," sê hy.
Dit sluit, onder meer, sowat 35 000 saadlaaie (elk met 242 saailinge per laai) vir lente-uie, New Bunching-uie, preie, en wortels in.
Tans is daar sowat 25 000 saadlaaie met tamatie-saailinge aan boere wat tamaties vir Famous Brands produseer, in die kweekhuis. Die kweke-ry verskaf ook sowat 500 saadlaaie met tabakplantjies aan Klein-Karoo-boere wat tabak vir Universal Leaf SA (ULSA) kweek.
Die kwekery verskaf werk aan 11 voltydse wer-kers en sewe tydelike werkers. "Ek het die Here gevra om vir my my eie besigheid te gee, en toe kry ek hierdie geleentheid om my eie kwekery te bestuur," vertel hy.
Die grootste uitdaging tans is om voëls van die saadlaaie af weg te hou. "Die voëltjies is goddeloos. Weens die droogte kom soek hulle hier kos en hulle het al sowat 20% van die jong tama-tiesaailinge uitgetrek," verduidelik hy, terwyl hy toesien dat werkers skadunet oor staalrame span om die honger voëls uit te hou.
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'