OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou wat 30 jaar gelede op slegs 22-jarige ouderdom 'n bankrot doodskisfabriek in Oudtshoorn met geleende geld gekoop het is op 29 September as die George-sakekamer se sakepersoon van die jaar aangewys.
Irene Vermeulen, die bekende eienaar van Oudtshoorn Begrafnisdienste, Olivier en Vermeulen Begrafnisdienste in George en Knysna asook die krematorium in George het die spogtoekenning tydens 'n geleentheid by die Oubaai Hotel ontvang.
Vermeulen, wat tans die enigste vrou in die land is wat haar eie krematorium besit, het haar eerste begrafnisdiens met 'n ou Peugeot-stasiewa begin kort nadat sy die doodskisfabriek gekoop het en besef het daar is 'n gaping in die mark.
Sy is ook die eienaar van Milan Granite and Marble en Steel Vintage Designs in Oudtshoorn.
In 'n onderhoud met die George Herald, susterskoerant van die Oudtshoorn Courant, het sy gesê: "Dit voel goed om uiteindelik erken te word as 'n suksesvolle sakevrou. Dit is egter nie die einde van die geveg nie.
"Ek streef daarna om die industrie waarin ek is meer persoonlik te maak en ek glo daar behoort 'n derde begrafnisopsie te wees vir mense wat graag in die natuur begrawe wil word. Die lewe gaan oor keuses."
Sy woon in Knysna sedert sy nege jaar gelede 'n begrafnisdiens daar oorgeneem het, maar sy besoek haar sakebelange in George en Oudtshoorn op 'n weeklikse basis.
Haar onderneming, Oudtshoorn Begrafnisdienste is volgende Donderdagaand, 26 Oktober, die hoofborg en gasheer van die Oudtshoorn-besigheidskamer se maandelikse netwerkaand.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'