"Ons strewe is om 'n diensgesentreerde kultuur by Highgate te skep wat uitstaande diens en waarde aan ons klante bied," sê Viljee Keller. "Aangesien Jan en Barbara Bester as konsultante reeds nou betrokke was by die heropening van Highgate, het ons hulle identifiseer as ideale bestuurspaar om Highgate na hoër hoogtes te neem."
Jan en Barbara is alombekend in die toerismesektor en het sedert 2005 ryke ervaring in verskeie fasette van die gasvryheidsbedryf en toerisme opgedoen. Jan is 'n gekwalifiseerde nasionale- en spesialis-Swartberg-toergids met jare se ondervinding in bestuur en bemarking.
"Die sinergie wat ontsluit word deur ons passie vir die uitbou van toerisme in die Klein-Karoo en die betroubare Highgate handelsmerk, hou groot belofte in," sê Jan.
Viljee stem saam dat dit maar die begin is van groot dinge wat uit hierdie strategiese vennootskap gaan vloei. Highgate is daagliks oop vir besoekers en bied 'n verskeidenheid interessante aktiwiteite aan. Inwoners van Oudtshoorn word daaraan herinner dat hulle gratis toegang tot Highgate kry as hulle besoekers van buite na die skouplaas vergesel.
Die strewe van die eienaars, bestuur en personeel van Highgate volstruisskouplaas is om 'n diensgesentreerde kultuur te skep wat uitstaande diens en waarde aan besoekers bied. Foto: Jo-Marie de Kock
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'