Advertorial Gallery Video
OUDTSHOORN SAKENUUS EN VIDEO - Gearup is nie bloot 'n fietswinkel met 'n reeks uitstekende produkte en dienste nie, dit is ook 'n sportonderneming waar inwoners en organisasies reeds vir jare algemene sporttoerusting aankoop.
Mede-eienaar Henco Rademeyer, het reeds in 1989 by die besigheid betrokke geraak toe dit nog as Ton's Sport & Cycle bekendgestaan het.
Die naam is sowat twee jaar gelede na Gearup verander en die onderneming het verlede jaar na 'n splinternuwe perseel in die WES-sentrum in Voortrekkerweg verhuis.
Fotogalery: Gearup nou in WES-sentrum
Henco en sy vier vennote, Carel Heroldt, Hein Jonker, Brandon Iverach en Bernard le Roux, is bekendes in sportkringe. Met hulle betrokkenheid by Dryland Event Management wat reeds talle groot nasionale en internasionale sportbyeenkomste gereël het, weet hulle presies wat die behoeftes van sportlui is. Gearup het nie slegs na 'n nuwe perseel verskuif nie, maar hulle verseker ook dat die onderneming in die hande van twee kenners is.
Kyk 'n video hieronder:
Theo Kruger, met jare lange ondervinding in kliëntediens en self ook 'n groot sportgeesdriftige, is sowat sewe maande gelede as algemene bestuurder aangestel om op klantesorg te fokus.
Kevin Taljaard, 'n fietsryer met uitgebreide tegniese kennis oor fietse, het onlangs met sy gesin uit Jeffreysbaai verhuis om die tegniese deel van Gearup te behartig. Hy doen alle dienste en herstelwerk aan fietse self en staan ook gereed met praktiese raad aan fietsryers.
"Ek diens en herstel nie net fietse nie, ek kan enige fiets presies volgens 'n fietsryer se behoefte aanpas of opbou," sê hy.
Tans verkoop Gearup die handelsmerke Giant, Silverback en Avalanche, maar daar is planne om die reeks handelsmerke uit te brei.
Gearup se fokus is op algehele klantesorg en dit kan alleenlik vermag word deur op die klant se behoeftes te fokus en te verseker dat diens en produkte puik is. Met hierdie benadering wil Gearup ook verseker dat koopkrag in die dorp bly en dat klante nie elders of aanlyn na produkte en dienste hoef te soek nie.
Besoek Gearup by hulle nuwe perseel in die WES-sentrum, Voortrekkerweg 99, langs Wes-Handelshuis of kontak hulle by 044 279 2423 vir alle fietsry- en sportverwante behoeftes.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'