OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het die R54 miljoen skuld wat hulle sedert verlede jaar aan Eskom geskuld het vereffen.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die skikking van die agterstallige bedrag van verlede jaar 'n aanduiding dat die munisipaliteit se finansiële herstelplan positiewe resultate oplewer.
Volgens haar het die burgemeester, Colan Sylvester, gesê hulle kan inwoners en beleggers verseker dat die ooreenkoms wat die munisipaliteit met Eskom oor die skuld gehad het, ten volle nagekom is.
"Daar is 24 paaiemente aan Eskom betaal. Die munisipaliteit wag net op die omkering van die rentekoste op die rekening soos daar met Eskom ooreen gekom is," het Sylvester gesê.
Volgens hom sien hul hierdie terugbetaling as een van die groot prestasies sedert die nuwe munisipale bestuur in Augustus 2016 oorgeneem het.
Die finansiële herstelplan is daarop gemik om die munisipaliteit se finansiële verpligtinge na te kom en ook om basiese dienste aan die gemeenskap te verseker. Gereelde terugvoer moet deur administrasie gegee word om te wys watter vordering daar gemaak word.
Die jongste verslag is op 26 Oktober aan die munisipale raad gegee. Felix Lötter, die munisipaliteit se hoof finansiële-beampte, het met die terugvoering aan die raad gesê, verskeie aansoeke vir finansiering is gemaak om die implementering van die plan volhoubaar te hou.
Die aansoeke is aan die Wes-Kaapse provinsiale regering gestuur om die meter oudit en metervervangingsprogram uit te voer. Felix het gesê hulle wag nog op terugvoer.
Die finansiële herstelplan bestaan uit die volgende tien programme:
- Begroting en uitgawes,
- Inkomstebestuur,
- Kliëntediens,
- Kontantbestuur,
- Finansiële kontrole,
- Batebestuur,
- Voorsieningskettingbestuur,
- Institusionele Stabilisasie,
- Rekeningkunde- en databestuur en
- Aanspreeklikheidsbestuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'