OUDTSHOORN SAKE NUUS - Toe Jaco Vorster en Johan van Heerden vier jaar gelede drie besighede op Oudtshoorn oorgeneem het, het hulle onderneem om met hart en siel in die besighede in te klim en klante eer-ste te stel.
Dit wat hulle sedertdien met Wes-Handels-huis, Camp Roadhouse en Camp Bakery vermag het, getuig daarvan dat die besighede en klante hulle passie is. Oor die afgelope vier jaar het hulle verskeie veranderinge en uitbreidings aan veral Wes-Handelshuis en Camp Bakery aangebring. Getrou aan hulle woord vernuwe hulle steeds en die nuutste toevoeging tot Wes-Handelshuis getuig daarvan.
CAFE.DE.MOVE.ON, waar mense kan sit en ontspan met koffie en eetgoed uit die bakkery, het hierdie maand geopen en is reeds 'n gewilde stilhouplek.
"Met ons bakkery wat geweldig uitgebrei het, het ons bykomstige spasie benodig. Toe die perseel langs Wes-Handelshuis, waar 'n slaghuis voorheen was, beskikbaar word het ons dit opgeraap," sê Vorster. Hulle het die bakkery na die groter perseel verskuif en besluit om die deli-gedeelte van Wes-Handelshuis uit te brei. Waar daar vroeër slegs een groot tafel was waar klante kon sit om koffie te geniet, is daar nou 'n gesellige area met 'n aantal tafels, 'n rusbank en 'n kuierkaggel geskep.
Die naam van die nuwe plek, CAFE.DE.MOVE.ON, het nie sommer uit die lug geval nie, maar het 'n besondere betekenis vir die twee eie-naars. In 1941 was twee vriende, JHJ Potgieter en H Pocock, die eienaars van Camp Roadhouse oorkant die weermagbasis. Britse soldate wat destyds daar opleiding ontvang het, was egter verbied om die basis te verlaat en Camp Roadhouse te ondersteun. Soos ware entrepreneurs het die twee vriende besluit om dan die besigheid na die soldate toe te neem. Hulle het 'n mobiele winkeltjie, CAFE.DE.MOVE.ON, op 'n perdekar ingerig en 'n permit bekom om in die basis handel te dryf.
Vir Jaco en Johan was die besluit om die naam weer te laat herleef 'n maklike een om verskillende redes. "Eerstens is die siklus begin deur twee beste vriende wat destyds Camp Roadhouse besit het. Na hulle was dit families wat die besigheid besit het, en nou is dit weer twee boe-semvriende wat die besighede het," sê Jaco.
Die naam is egter ook simbolies van die twee se vasberadenheid om die heeltyd aan die beweeg te bly en innoverend te dink en aan te pas.
"Dan doen ons nou natuurlik ook op 'n ander vlak presies wat Potgieter en Pocock destyds gedoen het; ons vat ons produkte na klante toe wat nooit by ons uitkom nie." Hier verwys Jaco na die roetes wat hulle voertuie aflê om Camp Bakery se gewilde reeks koekies en beskuit op al die hoofroetes te versprei. Die produkte word na plekke soos Worcester, Onrus, Jeffreysbaai, Langkloof, Colesberg en Bloemfontein versprei.
CAFE.DE.MOVE.ON is nie net 'n uitbreiding van die bestaande Wes-Handelshuis nie, dit is ook 'n stap om 'n plek met atmosfeer te skep waar klante kan kies om rustig te sit en koffie of tee en verversings te geniet of om haastig in te val, iets te koop en weer die pas te vat. "Daarom is die Cafe se leuse, Vat jou paai en waai. Jy kan net inhol, een van ons heerlike produkte koop en weer in die pad val as jy nie tyd het vir kuier nie," sê Jaco.
CAFE.DE.MOVE.ON en Wes-Handelshuis is deel van die kykNET-program Ontbytsake wat Saterdagoggend tussen 07:30 en 09:00 op DSTV kanaal 144 uitgesaai word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'