Advertorial
OUDTSHOORN SAKE-NUUS - Vir De Lange Slaghuis om langer as 60 jaar te bestaan, is reeds 'n prestasie, maar om dit vir 60 jaar in dieselfde familie te hou is uitsonderlik.
Die Van Rensburgs se verbintenis met dié slaghuis begin in 1959 toe Hannes van Rensburg en 'n vriend, Meneer Joubert, die slaghuis van Ben de Lange gekoop het. Uit erkenning vir hom het hulle besluit om die naam, De Lange Slaghuis, te behou.
Met verloop van tyd het Hannes sy vriend se aandeel uitgekoop en oor die volgende aantal jare die onderneming in Uniestraat uitgebrei en as een van die dorp se bekendste slaghuise gevestig.
Sy vrou, Helen, het haar eie entrepreneurskap aan die dag gelê en op dieselfde perseel in 'n aangrensende gebou die bekende Stywe Lyne-viswinkel begin.
Na haar dood is die perseel verhuur. Hannes se seun, Thinus, het by die slaghuis aangesluit en in 1999 het die derde Van Rensburg-geslag, Hannes se kleinseun Rauch, by die slaghuis aangesluit.
Rauch is tans die eienaar van die slaghuis terwyl Thinus sy aandag aan sy ander onderneming, Klein Karoo Rooivleis Abattoir, wy. Rauch se ma, Maryke, het die slaghuis se finansies hanteer totdat sy in 2014 afgetree het.
Volgens Rauch kan hy die sukses van De Lange Slaghuis toeskryf aan goeie persoonlike diens deur 'n klein personeelgroep wat hulle klante se behoeftes deeglik ken en ook topgehalte vleis.
"Dit is belangrik om goeie diens te lewer, maar dit is nog belangriker om te sorg dat ons vleis net van die beste gehalte is," beklemtoon Rauch. Hy wys ook daarop dat enige onderneming in die gemeenskap moet terugploeg en daarom is hulle gereeld betrokke by skenkings aan verskeie organisasies.
"As ons werk, werk ons en as ons grappe maak, lag almal saam. Dit was nie altyd maklik nie, maar met die genade van Bo en met getroue ondersteuning van ons klante is ons na 60 jaar steeds hier," sê Rauch.
Besoek gerus die silwerskoon en netjiese perseel van De Lange Slaghuis in Uniestraat tussen Hoog- en Adderleystraat of skakel hulle by 044 272 2631.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'