Sponsored Content
SAKENUUS - Sedert die stigting van Karoo Lusern Slaghuis in 2021 het die onderneming vinnig sy plek as een van Oudtshoorn se gewildste slaghuise ingeneem.
Ná sewe uitdagende jare van droogte het eienaar Cornel Landman besluit om ’n nuwe hoofstuk aan te pak met die doel om verbruikers van topgehalte vleisprodukte te voorsien waarvan die oorsprong, gehalte en naspeurbaarheid bekend is.
Vandag staan Karoo Lusern Slaghuis bekend vir veel meer as net uitstekende vleis. Die onderneming het ’n reputasie opgebou vir uitmuntende kliëntediens, streng higiënestandaarde en ’n warm, verwelkomende atmosfeer wat klante telkens laat terugkeer.
Volgens Cornel is die klant se ervaring die hart van die besigheid. Elke werknemer is bekend vir hulle vriendelikheid, respek en professionaliteit .
“Elke klant wat by ons deur instap, moet welkom voel. Ons wil hê mense moet weet hulle word waardeer en dat hulle deel is van die Karoo Lusern-familie,” sê hy.
Braaivleis is diep gewortel in die Suid-Afrikaanse kultuur en bring families, vriende en gemeenskappe bymekaar.

Daarom glo die span by Karoo Lusern Slaghuis dat elke braai begin met gehalte vleis. Die slaghuis bied ’n wye verskeidenheid premium vleisprodukte wat met sorg voorberei word om aan die hoogste standaarde te voldoen.
Wat die onderneming besonder uniek maak, is dat Cornel self verantwoordelik is vir die afronding van sy beeste en skape. Hierdie praktyk gee hom volle beheer oor die gehalte van die eindproduk.
Deur te verseker dat diere minimale stres ervaar en omdat hul gesondheid voortdurend gemonitor word, kan hy met vertroue vleis van uitsonderlike gehalte aan sy klante lewer.
Volle naspeurbaarheid vorm ’n belangrike deel van die besigheid se filosofie. Klante kan gemoedsrus hê oor waar hul vleis vandaan kom en seker wees dat elke stap van die proses noukeurig bestuur word.
Karoo Lusern Slaghuis vorm deel van die groter Karoo Lusern-groep, ’n onderneming wat oor verskeie vertakkings beskik.

Die groep se bedrywighede fokus hoofsaaklik op lusern en ander ruvoerprodukte, maar sluit ook ’n ingenieurswerke in wat hamermeulens en ruvoerverwerkingsaanlegte vervaardig, asook verskeie landbou-ondernemings.
Ten spyte van die omvang van die groep bly die slaghuis vir Cornel en sy vrou, Hanri, ’n besondere bron van trots. Hulle sien dit as ’n onderneming wat volledig toegewy is aan voortreflikheid en die skep van ’n uitsonderlike kliënte-ervaring.
Die ondersteuning van lojale klante speel ’n groot rol in die sukses van die besigheid. Cornel sê dit is vir hom altyd ’n voorreg om bekende gesigte week ná week in die winkel te sien. Die slaghuis voorsien ook vleis aan talle restaurante, gastehuise en ondernemings in die streek.
Vakansiegangers wat aanvanklik bloot nuuskierig ingestap het, het dikwels gereelde klante geword wat hul vleis selfs na ander dele van die land laat aflewer.
“Dit is wonderlik om te sien hoe mense wat ons een keer besoek het, later getroue ondersteuners word. Dit bevestig dat gehalte produkte en opregte diens steeds ’n verskil maak,” vertel Cornel.
Met die nuwe seisoen wat voorlê, sien die Karoo Lusern-span uit na verdere groei, uitbreiding en vernuwing. Nuwe geleenthede word voortdurend ondersoek en die fokus bly daarop om die beste moontlike produkte en diens aan elke klant te lewer.
Vir Cornel en sy span gaan dit oor meer as net vleis - dit gaan oor mense, verhoudings en die trots van die Karoo wat in elke produk weerspieël word. Karoo Lusern Slaghuis bly daarom getrou aan sy leuse: ‘Jou vuur, jou vleis, jou mense’.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’