Die uittredende voorsitter, André van Greunen, het verlede Donderdag in sy jaarverslag tydens die kamer se algemene jaarvergadering by die Oudtshoorn-gholfklub gesê dat die hoofdoel van die Oudtshoorn-besigheidskamer bly om besigheid te ondersteun, werk te skep en bestaande werksgeleenthede te behou.
"Ons glo in samewerking met die Oudtshoorn-munisipaliteit wat die dorp beheer en is groot dank verskuldig aan die burgemeester en senior amptenare wie se deure altyd oop is vir die vereniging." Hy het weer sterk te velde getrek teenoor mense wat voortdurende negatiewe briewe in koerante skryf, net altyd kritiseer, en nie 'n bydrae wil lewer tot die ontwikkeling van die dorp nie.
Volgens Van Greunen het 2012 se netwerkaande uitstekende sprekers opgele-wer en is geleenthede geskep om met mekaar te netwerk en idees te ruil. Ook die maandelikse gholfdae is goed ondersteun en sal daarmee voortgegaan word.
"Ons verhouding met Alphen aan den Rijn, Oudtshoorn se tweelingstad, is belangrik en gesond met die studiebeursprojek saam met die munisipaliteit een van die suksesvolle projekte."
Van Greunen het beklemtoon dat die Oudtshoorn-besigheidskamer nie politiek bedryf nie. "Ongelukkig is politiek oral deel van die alledaagse lewe."
Hy sê ook dat die kamer deesdae al hoe meer komplimente ontvang vir goeie diens van besighede in Oudtshoorn.
"Besighede besef egter dat die ekonomie nog nie sy kop gaan lig nie. Stakings, loonverhogings, geweld en korrupsie raak ons almal."
Volgens Van Greunen is die enigste manier om Oudtshoorn weer die nommer een dorp in die streek te maak om op te hou met rugstekery en almal saam te staan en positief te dink en praat. "Oudtshoorn het nog altyd oorleef en sal weer," het hy gesê.
Hy het alle nuwe intrekkers, veral die wat positief is teenoor besighede en werkskepping, in die dorp verwelkom.
"Ons kort 'n paar groot kanonne om op te staan en 'n paar skote te skiet asook ander politici om ons dorp vorentoe te vat."

Die nuwe bestuur van die Oudtshoornb-esigheidskamer vir 2013 is van links: mnre Geoff Wilck, Andre van Greunen, Willie Marais, Johannes Esquire, dr. Johan Strasheim, mnr. Petri van Zyl, me. Donna-Lida Beets, mnre. Niel Els en Bennie de Wet. Afwesig: Mnre. Jurgens Meyer, Jacobus Maloney, Schalk le Roux en Piet Lodder. Foto: Garnett Wicomb