OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-besigheidskamer het hulle reeks netwerkaande vir die jaar verlede Donderdag, 30 Oktober, afgesluit. Die geleentheid is by Route 62 aangebied met Just Property as die borg van die aand.
Ongeveer 80 gaste het die aand bygewoon waar die plaaslike musikant, Janine Fourie, ook opgetree het. Nuwe lede wat by die besigheidskamer aansluit, ontvang hulle sertifikate tydens netwerkaande en Donderdagaand is die Vryburgers as nuwe lede voorgestel. Hendri Calitz het die lidmaatskapsertifikaat namens die Vryburgers ontvang.
Ingrid Noble van Just Property het die gaste verwelkom en gesê dit is nie ’n aand van toesprake nie, maar eerder ’n netwerkgeleentheid en om saam te kuier. Sy het die nuutaangestelde skoolhoof van Oudtshoorn Vaardigheidskool, Jaco Stevens, ook aan die gaste voorgestel.
Hy is aangestel na die aftrede van die vorige hoof, Gavin Block.
Die besigheidskamer se laaste geleentheid van die jaar is hulle gewilde gala-aand wat op 20 November by Makietie Venue in Volmoed aangebied word. Die aand sluit ’n driegangmaaltyd in met Left Sleeve as die gasspreker.
Vir meer inligting oor die besigheidskamer en die gala-aand kontak Helen Butler by 084 443 6320 of [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’