Advertorial
OUDTSHOORN NUUS - Gesondheidsorg op Oudtshoorn kry op 1 Julie 'n welkome en kundige toevoeging wanneer dr. Juan Klopper, ’n algemene chirurg, sy praktyk by Mediclinic Klein Karoo open.
Dr. Klopper het vanaf 1988 tot 1993 medies aan die Universiteit van Pretoria studeer en vanaf 1997 tot 2002 in algemene chirurgie by die Universiteit van die Vrystaat gespesialiseer.
Hy het bykans ’n dekade in privaat praktyk in Johannesburg deurgebring voordat hy by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Hy het die afgelope 10 jaar daar spandeer en was die eerste voltydse hoof van die akute sorg- en algemene chirurgie-eenheid in Groote Schuur-hospitaal, waar die model van chirurgiese diens, waarin hy spesialiseer, tot stand gebring is.
Volgens hom het hy en sy vrou die afgelope aantal jare ’n versugting ontwikkel om die stadslewe vir die platteland te verruil en het op Oudtshoorn besluit. "Oudtshoorn is geleë in 'n pragtige deel van ons land. Ek het ook ’n sterk geskiedkundige familie verbintenis met Oudtshoorn," het hy gesê.
Hy is vol vertroue dat hy ’n groot bydrae tot die gemeenskap en omgewing se gesondheidsorg sal kan maak en sê: "As 'n chirurg, ervare in beide akute sorg en elektiewe chirurgie, beplan ek om ’n groot aanvulling te wees vir die gesondheidsdienste in die hospitaal en om ook deel te wees van die wyer gesondheidsorgspan in die gebied."
Dr. Klopper is getroud met Abigail, wat vroue-entrepreneurs ondersteun deur haar internet akademie, kursusse, konsultasies en persoonlike ontwikkeling. Sy is ook ’n professionele fotograaf en is ’n skepper van visuele inhoud.
Hulle dogter is ’n derdejaarstudent in regte aan die Universiteit van die Vrystaat en beplan om te spesialiseer in besigheidsreg. Dr. Klopper se kundigheid en belangstelling eindig nie by chirurgie nie; hy doen ook navorsing op die gebied van kunsmatige intelligensie en wiskundige modellering van siektetoestande.
Om gesond en aktief te bly is tweede natuur by hom. "Ek is ’n fiksheidsfanatikus. Draf is my groot liefde. Ek probeer om elke dag die 10 km merk verby te steek. Ek en Abigail kom soveel as moontlik uit in die natuur en sien uit om in Oudtshoorn te bly."
Dr. Klopper se praktykbesonderhede is as volg:
Mediclinic Klein Karoo Kerkstraat 185 Suite 4, Tel: 044 272 0111
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'