OUDTSHOORN NUUS - Jan Goliath (50), 'n derde-generasie plaaswerker van Gründheim buite Oudtshoorn, het oor drie dekades sy pad van nederige begin tot junior wynmaker gestap sonder enige formele opleiding en met slegs st. 6 agter sy naam.
Wynmaak lê in sy bloed. Sy oupa, Klaas Goliath, het meer as 50 jaar lank op dieselfde plaas gestook. Jan het in sy voetspore gevolg en homself deur harde werk, deursettingsvermoë en 'n opregte passie vir die kuns van wynmaak bewys as 'n onmisbare deel van die Gründheim-span.
Vroeër vanjaar is sy toewyding beloon toe hy die toekenning vir Beste Potensiële Plaaswerker tydens die Klein Karoo Prestige Agri-toekennings ontvang het.
'n Leemte ná verlies
Goliath vertel dat hy baie geleer het by Dys Grundling, mede-eienaar en wynmaker van Gründheim, wat in 2020 skielik aan 'n hartaanval oorlede is.
"Ek het jare saam met Dys gewerk tot hy eendag gesê het ek moet saam met hom in die kelder begin werk," onthou Jan. "Toe die groot droogte kom en die wingerde begin vrek, moes ons innoverend raak en dis toe dat die gin-stokery ontstaan het."
Dys se afsterwe het 'n groot leemte op die plaas gelaat. "Vir 'n ruk het ons ander kundiges gebruik," sê Jan. "Maar eendag het ek tot by Elana, Dys se vrou, en Ena, sy suster, gestap en vir hulle gesê: Ek wil begin wyn maak."
Elana Grundling (links) en Ena Barnard vertel hoe trots hulle is op wat Jan bereik het. Foto verskaf
Sedertdien gebruik hy alles wat hy by Dys geleer het. "Ek het letterlik nagte in die kelder deurgeslaap. Ons maak wyn en distilleer gin en witblits in 'n ou woudberg koperketel oor oop vuur soos in die ou dae," vertel hy trots.
Jan is 16 jaar deel van die Gründheim-span.
"Een van die belangrikste dinge wat Dys my geleer het, was veiligheid en netheid in die kelder. Hy het dit in my ingebrand," sê Jan. "Ek maak tot vandag toe seker dat alles veilig is vir die mense wat saam met my werk, want ek is verantwoordelik vir hulle. Hy het my ook geleer om eerlik en 'n goeie leier te wees."
Passie en selfleer
Jan se toewyding is so groot dat hy steeds in die kelder slaap om seker te maak alles verloop soos dit moet. "Ek het intussen begin om my eie resepte uit te werk en myself geleer hoe om alkohol af te breek," vertel hy. "Dys het lank terug 'n som op die bord teen die kelder se muur geskryf, en een aand het ek 'n sakrekenaar en papier gevat en dit uitgewerk tot ek dit reggekry het."
Hy glo die belangrikste les wat hy in die lewe geleer het, is om te vra as jy nie weet nie. "Almal moet leer. As jy nie vra nie, gaan jy nie weet nie. Gelukkig het ander wynmakers altyd gehelp as ek raad nodig gehad het, hulle was bereid om my te leer en by te staan."
Gründheim se trots
Ena en Elana is dit eens dat hulle baie trots is op Jan.
“Hy het merkwaardig uitgestyg onder moeilike omstandighede, veral na Dys se dood. Hy het gewys dat ons ten volle op hom kan vertrou en dat hy ’n leier en steunpilaar van die Gründheim-span is.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’