Update Video
KLEIN KAROO NUUS EN VIDEO'S - Die sprinkaanplaag wat tans in Calitzdorp is, het Oudtshoorn nog nie bereik nie.
Volgens Lohan Fourie, ‘n boer van Calitzdorp, kon hulle gisteraand daarin slaag om ‘n redelike hoeveelheid sprinkane met gif te spuit.
“Dit lyk of hulle meer na die noorde toe beweeg. Dit is egter nog te vroeg om te sê of hulle Oudtshoorn se kant toe gaan. Hulle vlieg eers wanneer die wind bietjie sterker is en wanneer dit warmer is. Die sprinkane kan ook net in die aand gespuit word. Gisteraand het spanne tot omtrent 02:00 vanoggend gespuit en kon ons darem ‘n groot hoeveelheid spuit.”
Volgens hom is daar nog nie veel skade aangemeld nie.
“Daar was ‘n boer wat tamatieplante verloor het, maar daar is nog nie baie skade by my aangemeld nie. Dit is makliker om hulle in die lande te spuit, want in die veld kan ons nie oral met die bakkies ry nie en ook nie oral loop nie.”
Fourie sê hulle het ‘n spuitspan van Laingsburg gekry en hy kon ongeveer drie groot swerms identifiseer.
VERSKAFDE VIDEO'S:
“Dit is gelukkig nie so baie soos waarmee die boere in die Groot-Karoo sukkel nie en ons het die regte tools om die sprinkane te kan spuit. Die probleem is egter die eiers wat reeds gelê is. Ons kan niks daaraan doen nie omdat ons nie presies weet waar dit gelê is nie.
"Die wyfie kan tot 70 eiers op ‘n slag lê en kan tot twee jaar dormant lê. Wanneer die weer gunstig is kan hulle uitbroei en dan het ons weer die probleem. Daar is ook niks wat mens kan doen om voorkomend op te tree nie.”
Loubsher Coetzee, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene aakekamer, sê die gif kos die boere ‘n klomp geld.
“Boere sukkel steeds finansieel na die droogte en om nou nog gif ook te koop, wat ‘n onbeplande uitgawe is, maak die boere seer.”
Volgens hom is daar wel ‘n Karoo Rampfonds gestig sou enigiemand graag wil skenk.
“Die boere boer met gewasse wat na mense se tafels gaan en op die einde van die dag raak dit die verbruiker en so baie soos die produseerder. Die rampfonds het ook ‘n Artikel 18 by wat beteken besighede kan dit van belasting eis.
"Al wat nodig is, is ‘n naam en van of naam van die besigheid, fisiese adres, e-pos adres, die hoeveelheid geld wat geskenk is en die datum waarop die donasie gemaak is.”
Vir meer inligting kontak Helen Butler by 044 272 6637 of business@odnchamber.co.za
Foto's: Lohan Fourie
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'