OUDTSHOORN NUUS - Terwyl die landbousektor aan die Tuinroete groot lof ontvang vir sy vinnige en doeltreffende optrede teen die uitbreking van bek-en-klouseer, bly ’n tekort aan polisiehulpbronne ’n ernstige knelpunt vir landelike veiligheid.
Dit was die dubbele boodskap tydens Donderdag 9 April se Agri Wes-Kaap streekkongres by Kansa Krale buite Oudtshoorn.
Bloudruk vir rampbestuur
Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se rampbestuurspan, onder leiding van Gerhard Otto, geloof vir hul hantering van die krisis.
Hy het die span 10 uit 10 gegee en gesê die streek dien as voorbeeld vir die res van die land.
“Ons is oor die hele Wes-Kaap betrokke, maar die Tuinroete wys hoe krisisse reg bestuur moet word,” het Strydom gesê.
Louis Wessels van Agri Wes-Kaap het saamgestem en beklemtoon dat biosekuriteit op plase steeds krities is. Bewegingsbeheer van diere en doelgerigte inentingsprogramme bly volgens hom die belangrikste maatreëls om die bedryf te beskerm.
“Danksy die rol van rampbestuur is ons gemaklik dat die situasie tans onder beheer is,” het hy gesê.
Polisietekorte wek kommer
Die fokus het egter vinnig na landelike veiligheid verskuif, waar ernstige kommer uitgespreek is oor die tekort aan hulpbronne en voertuie.
Boere het aangedui dat reaksietye dikwels te lank is en dat polisiebeamptes sukkel om afgeleë gebiede te bereik weens ’n gebrek aan geskikte voertuie. Dit laat boere en hul werkers kwesbaar vir misdaad.
Kaptein Tobie van der Walt, wat landelike veiligheid by die kongres verteenwoordig het, het erken dat die situasie uitdagend is.
Hy het gesê gesprekke vind op nasionale vlak plaas en dat insette vanaf die grondvlak deurgegee word, maar het toegegee dat vordering stadig is.
“Die wiel draai stadig,” het hy gesê.
Van der Walt het ook verwys na veediefstaleenhede wat nie oor voldoende hulpbronne beskik nie, wat ondersoeke en regsprosesse vertraag.
Pleidooi vir dringende optrede
Die sessie het afgesluit met ’n beroep op owerhede om landelike veiligheid met dieselfde dringendheid as biosekuriteit te hanteer.
Hoewel die suksesvolle bestuur van bek-en-klouseer wys wat deur samewerking bereik kan word, bly gebrekkige polisiëring ’n wesenlike bedreiging vir volhoubare boerdery in die streek.
Lees ook:
Dr. Theuns Eloff voorspel groot politieke verskuiwings in 2026
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’