OUDTSHOORN NUUS - Pernill Prins (30) van Micro Farms is aangewys as, Klein Karoo 2024 Landbouwerker van die Jaar, tydens die Wes-Kaapse departement van landbou Klein Karoo Landboutoekennings, in Oudtshoorn.
Hierdie glansgeleentheid vier die onskatbare bydraes wat landbouwerkers tot die volhoubaarheid en groei van die landbousektor in die Wes-Kaap lewer.
Oudtshoorn Courant het aan Pins gevra hoe dit voel om hierdie toekenning te ontvang. "Dit is 'n ongelooflike voorreg om die toekenning te ontvang aangesien daar soveel goeie plaaswerkers is wat ook deelgeneem het. Ek dra die toekenning op aan my oupa wat my aangepor het om hard te werk en iets uit my lewe te maak. Ek het 'n passie vir landbou en voel baie trots op die toekenning. Ek is ook baie dankbaar aan my werkgewers by Micro Farms wat my ingeskryf en aangemoedig het om net die beste te doen. Ek is van kindsbeen af geleer om hard te werk en sien uit na die streekronde van die kompetisie."
Pernill Prins van Micro Farms in Oudtshoorn. Foto: verskaf
Platform vir kundigheid van werkers
Dié inisiatief, voorheen bekend as Plaaswerker van die Jaar-kompetisie, is 'n hoeksteenprojek vir die departement van landbou sedert sy ontstaan in 2002. Dit is oorspronklik in die Hexvallei-streek met 36 deelnemers begin en het sedertdien uitgebrei met landbouwerkers oor die hele provinsie wat deelneem.
Prins sal nou die Klein-Karoo op streekvlak verteenwoordig. Streekwenners sal deurdring na die provinsiale vlak en meeding om die gesogte titel van 'Wes-Kaap Agri Werker van die Jaar'. Die algehele wenner sal tydens 'n galaseremonie in November 2024 bekendgemaak word. Meer as
16 000 landbouwerkers in die Wes-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem en hul kennis en vaardighede in verskeie kategorieë ten toon gestel. Die streekkompetisies dek 16 streke en bied 'n platform vir werkers om hul kundigheid te demonstreer en by te dra tot die groei van die landbousektor.
Murg van die gemeenskap
Zoë Tyatya, Oudtshoorn se nuutverkose onderburgemeester, het tydens sy kort toespraak genoem dat boere as vanselfsprekend aanvaar word. "Vandag is ons hier om mense in die landbou te vereer, mense wat die grond bewerk, die vermoë om te oes is 'n eer en verdien respek."
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het as gasspreker opgetree. As gebore plaasseun het hy 'n groot liefde vir landbou. "Ek ken die plaaslewe, my lewe was binne die grond en my hart in landbou. Die plaas kry jy nie uit plaasmense nie, grond is alles, dit is prioriteit."
Allers het voortgegaan deur te beklem-toon dat plaaswerkers en boere die murg van 'n gemeenskap is en dat landbou altyd 'n belangrike rol sal speel.
Kategorie / uitslae
Die wenners het elkeen 'n prys ontvang wat 'n kontant bedrag, asook 'n Shoprite-koopbewys insluit. 'n Spesiale sertifikaat is ook aan elkeen oorhandig.
1. Algemene werker - Karel van Beulen van Micro Farms
2. Drywer - Joseph Januarie van Micro Farms
3. Besproeiingspesialis - Kerneels Kammies van Kumquat
4. Tegniese operateur - Kerneels van Aswegen van Kumquat
5. Sosiale ontwikkeling - Sophia Roman van Withoek
6. Administratiewe personeel - Gurswinne Meiring van Kumquat
7. Voorman/Vrou - Morné Bassie van JP Schoeman
8. Junior bestuur - Jonathan van Beulen van Kumquat
9. Middel bestuur - Johannes Jakobus van Welgerus Gamka
10. Diereproduksie - Pernill Prince van Micro Farms
11. Landbouverwerking - Isaac Damons van De Rusticana
12. Beste presterende plaas - Kumquat
13. Beste potensiaal - Fiona Jantjies van Nelsrivier
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’