OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Klein Karoo Prestige Agri-toekennings is Woensdag 27 Augustus by Swartberg Manor buite Oudtshoorn aangebied.
Die kompetisie, wat deur die Wes-Kaapse departement van landbou aangebied word, gee erkenning aan plaaswerkers in verskeie kategorieë vir hul uitsonderlike bydrae tot die landbousektor.
Johannes Jacobs, wat op JP Schoeman se plaas Gamka werk, is as Landbouwerker van die Jaar aangewys.
Die toekenning vir die Beste Presterende Plaas is aan Buffelsdrift buite Oudtshoorn toegeken, terwyl Andries Goliath van Grundheim, as die Beste Potensiële Plaaswerker van die Jaar aangewys is.
Die wenners van die Klein-Karoo dring nou deur na die provinsiale uitdunne wat later vanjaar in Stellenbosch plaasvind. Hier sal finaliste uit al 16 landboustreke meeding om die gesogte Wes-Kaapse Agri-toekennings.
Die burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Johan Allers, het in sy toespraak benadruk dat die geleentheid 'n teken van waardering én trots vir die landbougemeenskap is.
"Elke deelnemer wat ingeskryf het, bewys nie net geloof in sy of haar werk nie, maar toon ook trots om deel te wees van die ruggraat van die landboubedryf. Julle is reeds wenners, want dit verg moed, selfvertroue en 'n diep liefde vir die landbou om jouself op só 'n manier teen die beste in die bedryf te meet.
"Aan die wenners: hierdie prestasie getuig van dissipline, deursettingsvermoë en die passie waarmee julle daagliks werk."
Ten slotte het hy beklemtoon dat landbou en toerisme die lewensaar van die Oudtshoorn-omgewing vorm.
"Dit lê nie net aan die kern van ons dorp en streek se ekonomie nie, maar is ook verweef met ons kultuur, ons geskiedenis en ons mense se toekoms. Julle dra nie slegs by tot die voedselsekuriteit van die Klein-Karoo nie, maar ook tot die hart en siel van die Karoo."
Die wenners is as volg:
Algemene werker:
- Heinrich Jansen
- Bradley McKenna
- Albert Coetzee
Drywer:
- Tom Windvogel
- Granwill Plaaitjies
- Granwill Pietersen
Administratiewe personeel:
- Brandon Booysen
- Chandre Piedt
- Deseree Mostert
Tegniese operateur:
- Henry Fortuin
- Isak Hendricks
- Riaan Waynie
Besproeiingsspesialis:
- Niel Fortuin
- Jafat Meyer
- Freek Konstabel
Sosiale ontwikkeling:
- Matilda Perel
- Marietta Jansen
- Natasha Swartz
Voorman/vrou van die jaar:
- Mina Witbooi
- Christine Blauw
- Percy Goliath
Junior bestuurder:
- Gerwsin Meiring
- Brandon Goliath
- Granwill Williams
Middel bestuurder:
- Derick Campher
- Morne Basie
- Michael Arends
Landbouprosesseerder:
- Mirriam Tessa
- Jan Uithaler
- Andries Goliath.
Beste presterende plaas: Buffelsdrift
Beste pontensiële plaaswerker: Andries Goliath, Grundheim.
Landbouwerker van die jaar 2025: Johannes Jacobs, Gamka
Fotogalery: Klein Karoo Agri Prestige toekennings gee erkenning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’